Agriculture
Landbouskool Hendrik Potgieter, waar toekomsboere groei!─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 27 Oct 2025
Die Landbouskool Hendrik Potgieter op Reddersburg is ’n skool waar die volgende geslag landboukundiges, ondernemers en plaasleiers gekweek word.
Met goeie rede word daar na dié Suid-Vrystaatse skool verwys as die landbouskool met die beste skaapskeerders. “Tydens ons onlangse deelname aan die Vrystaatse ronde van die plaasvaardighedekompetisie is hulle vir die tweede jaar agtereenvolgens bekroon as die skool met die beste plaasvaardighede,” sê Anri Coetzee, onderwyseres.
15 skole het teen mekaar meegeding in 14 vaardighede, soos ’n sweiskompetisie, kaskarbou, trekker-foutvind, draadspan, identifisering van grassade en onkruide, skaaphantering, ram-en-ooi-seleksie, skaapskeer, wolklas en ook wolidentifikasie. 25 leerders van dié skool het deelgeneem.
Landbouskool Hendrik Potgieter het die afdeling landboubestuurspraktyke gewen en die tweede plek behaal in die afdelings landboutegnologie en jeugskou. Die nasionale plaasvaardighedekompetisie is tydens die onlangse NAMPO Alfa gehou waar Hendrik Potgieter deel gemaak het van die Vrystaatspan.
Tydens die NAMPO Alfa ekspo het leerders aan die skeer-en-wolklasdemonstrasies deelgeneem.
Jaarliks loop die leerlinge ’n masjien-en-handskeerkursus, en dan neem hulle deel aan verskeie kompetisies landwyd. Met die wen van onderskeie kompetisies kwalifiseer die leerders dan ook om aan die nasionale interskoleskeer-en-wolklaskompetisie deel te neem wat jaarliks tydens Bloemskou gehou word.
Kursusse vir skaapproduksie
“Ons is baie trots op ons leerders. Een van ons gr. 12-leerders, Collben Morgan, is nou nommer een in Suid-Afrika vir interskole-masjienskeer. Stehan Marais en DJ Coetzee was tweede en derde in die handskeerkompetisie. San-Mari Verwey was tweede in masjienskeer. Stehan het die vinnigste skaap geskeer van al die leerders, slegs sewe min. met ’n handskêr!” vertel Coetzee.
Leerlinge skeer ook jaarliks skape van boere in die omgewing en nooi alle boere om van hul dienste gebruik te maak. Afgelope 3 jaar het hulle 3 000 skape geskeer. Die jong skeerders hou ’n deel van die inkomste as sakgeld.
Die onderwys-LUR het ’n projek begin om 450 leerders gratis op te lei in drie verskillende kursusse vir skaapproduksie. Hierdie kursusse is elkeen Saqa-geakkrediteer. Dit heet die Hendrik Potgieter Agriculture-projek of HPA. Landboukollege Vrystaat is die diensverskaffer en elke leerder ontvang ’n sertifikaat vir elke kursus.

Leerders besig met die fynere kennis van wolklas. Foto: Anri Coetzee
Altesaam 450 leerders van 16 verskillende skole het al die skaaphanteringskursus voltooi. Die ander kursusse wat by die skool aangebied word, is dieregesondheid en goeie bestuur.
Laerskoolleerders kan wolklaskursusse volg, voeg Coetzee by. “Ons het besef dat kinders van selfs net tien nog nuuskierig is en graag iets nuuts wil leer. Gerrie van der Walt van departement landbou die inisiatief geneem, toetse is geskryf en leerders wat goed slaag kan plaas toe gaan vir twee dae.
“Boere van die omgewing is daarmee betrokke, soos Nardu Kruger van die plaas Rosendal, en as die leerders hulle prakties by hom doen, is hulle volwaardige beginnerwolklassers by ons skool.”
Landbouskool Hendrik Potgieter is meer as ’n skool. Dit is ’n skool van drome, passie en waar leerders geleer word om die landbousektor te dien, te lei en verander.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

