On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

VL lig parlementslede in op besoek aan Lesotho-grens

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 29 Oct 2025

VL lig parlementslede in op besoek aan Lesotho-grens | News Article
Veediefstal is 'n groot brandpunt aan die Lesotho-grens. Foto: Pexel.com

Ernstige kwellinge van grensboere is onder die aandag van politici gebring toe Vrystaat Landbou (VL) die geleentheid gehad het om ’n aanbieding te doen tydens ’n besoek deur die Nasionale Raad van Provinsies aan die Lesotho-grens.

VL pas al jare groot druk toe op Agri SA en staatsdepartemente oor die veiligheidsituasie aan die Lesotho-grens. “Grensmisdaad is aan die toeneem en die boere is geweldig uitgelewer. Seisoenaal is daar is ook ’n toename in brandstigting,” sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL.

VL het spesifieke kernaspekte uitgelig op die vergadering en beklemtoon die nasionale landelike beveiligingstrategie is goed, maar die groot probleem is die toepassing daarvan. Daadwerklike besluite moet geneem word en gesprekke moet lei tot optrede. 

Op die vergadering is ook uitgewys die Vrystaat is die kosmandjie van die land. Boerdery in die provinsie moet beskerm word deur behoorlike wetstoepassing. 

VL het die volgende versoeke gehad en dié ses ernstige knelpunte uitgewys:

  • Die 104 plattelandse polisiekantore in die Vrystaat se personeellede moet opgelei en bemagtig word, voertuie moet beskikbaargestel word en minstens een of twee landelikeveiligheidkoördineerders moet toegewys word aan die kantore.
  • Die reservistebeleid moet gefinaliseer word. Reservislede wat spesialiste is in veediefstal moet aangestel word. Heelparty boere stel belang om diens as reserviste te doen.
  • Tegnologie moet behoorlik benut en kameras en selfoonkommunikasie verbeter word. Selfoonsein is ’n groot probleem en daar is min tot bykans gee sein teen die grens nie. Venootskappe tussen privaat sekerheidsmaatskappye, die polisie en boere moet optimaal benut word.

‘Brei veediefstaleenhede uit’

  • Die uitbreiding van veediefstaleenhede met mannekrag, toerusting en voertuie moet voorrang geniet. ’n Groot tekort aan veediefstalspeurders en hulpbronne heers. Projekgedrewe ondersoeke moet in samewerking met misdaadintelligensie en die NVG geskied.
  • Die weermag en grensgebiedbestuursowerhede se mandaat en mannekrag moet uitgebrei word, en die 4x4-grenspad moet gebou word wat al lank belowe word. Veediefstalspeurders moet ook aan die weermag toegewys word. ’n Gebiedsreaksiespan word aangevra.
  • Die Skutwet en die nasionale wysigingswet hieroor moet afgehandel word. Munisipaliteite wat nie skutgeriewe het nie, asook verordeninge en boetelyste wat nie bygehou word nie, is ’n knelpunt. Die probleem van rondloperdiere en die ouditstelsels van die diere-identifikasiestelsel en die registrasie daarvan moet daadwerklik aandag geniet.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.