On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Paaie geskraap: Boere vul vakuum waar staat misluk, sê VL

───   ISABEL VAN TONDER 13:11 Fri, 31 Oct 2025

Paaie geskraap: Boere vul vakuum waar staat misluk, sê VL | News Article
Die oorstroomde R59-ompad naby Viljoenskroon, steeds onder water ná drie jaar. Foto: Vrystaat Landbou

Vrystaatse boere word gedwing om afgetrede padskraperoperateurs op eie koste aan te stel om grondpaaie te skraap voor dit verder agteruitgaan.

“Terwyl werkskepping ’n nasionale noodsaaklikheid bly, kan dit nie die sleutelprestasie-aanwyser vir die instandhouding van kritieke infrastruktuur wees nie,” sê Francois Wilken, Vrystaat Landbou (VL)-president. “As die provinsiale regering werklik ernstig was oor werkskepping, sou hy begin deur sy eie topswaar-personeelstelsel te herstruktueer en die talle dringend benodigde padskraperoperateurs en handarbeiders aan te stel.”

Wilken het nie veel vertroue in die uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) nie. Hoewel die doelwit om plaaslike werk te verskaf, prysenswaardig is, is dit uiteindelik die armste burgers wat van die staat se subminimum loontoelaes afhanklik is.

“VL het op aandrang van sy lede die departement herhaaldelik gewaarsku oor die swak vakmanskap en vertraagde werk van aangestelde kontrakteurs. Projekte soos die R709 (Tweespruit-Excelsior-pad) en die onlangs beëindigde werk aan die R708 (Clocolan-Marquard-pad) is uitstekende voorbeelde.

Boere word gedwing om self grondpaaie te  skraap en onderhou.  Foto: Pexel.com

“ ’n Verdere voorbeeld van owerheidsmislukking is die R59-ompad by Viljoenskroon, waar ’n 200 m lange gedeelte, wat drie jaar gelede oorstroom is, steeds onder water is. Geen werk het nog begin nie, en die duur ompad deur die dorp se nywerheidsgebied het daardie paaie in puin gelaat,” sê Wilken.

“Die omslagtige tweefase-openbareverkrygingsproses, vererger deur burokratiese ondoeltreffendheid en onverantwoordbare senior amptenare, ondermyn steeds openbare vertroue en wakker agterdog van korrupsie en kaping aan,” meen hy. “Dit laat min oor om hierdie Vervoermaand te vier. Dit is onvolhoubaar, en finansiering wat die Vrystaatse ekonomie moet laat groei, word nou anders aangewend.”

VL verwelkom intussen die vordering met paaie wat na Sanral oorgedra is, danksy volgehoue druk van georganiseerde landbou. Die organisasie loof die Infrastruktuur SA-loodsprojek, wat noodsaaklike vervoerroetes in die provinsie vir voorkeuraandag identifiseer.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.