Agriculture
Hofuitspraak oor horings ‘oorwinning vir renosters en bewaring’─── ISABEL VAN TONDER 13:54 Fri, 31 Oct 2025
 
                    
                    
                    
                    
                    
            In ’n geskiedkundige uitspraak het die hooggeregshof in Kimberley die deur oopgemaak vir wettige en gereguleerde internasionale handel in renosterhoring.
Kenners meen hierdie besluit Vrydag (31/10) kan daartoe bydra om die spesie te red, bewaring te finansier en plattelandse gemeenskappe landwyd te versterk. Dekades lank het bewaringskenners soos dr. George Hughes en dr. Ian Player aangevoer die oplossing vir stropery is eenvoudig: Laat etiese handel in renosterhoring toe.
Die rede is duidelik – renosters hoef nie doodgemaak te word vir hul horings nie.
Renosterhoring bestaan uit kreatien, nes menslike hare en naels. Dit kan veilig van lewende renosters geoes word, sonder om die dier te skaad. Die horing groei weer aan, dus is die horing ’n hernubare hulpbron.

Die hofuitspraak word beskou as ’n reddingstou vir alle renosters. Foto: Pexel.com
Renosters se horings word gereeld gesnoei om stropery en beserings te voorkom. Hierdie horings word al vir jare geberg en is dus ’n verlore bewaringsbate.
In weerwil daarvan dat die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) al 50 jaar beperkings instel, het stropery meegebring dat renosterbevolkings dwarsoor Afrika uitgewis is.
Die Kimberley-uitspraak bied ’n nuwe pad vorentoe, gegrond op wetenskap, etiek en volhoubaarheid, sê ’n renoster-eienaar.
Die uitspraak behels die volgende, met verwysing na die handel in renosterhoring: Die Cites-vrystelling vir renosters wat in bewaring geteel is, is deel van Suid-Afrikaanse wetgewing; uitvoerpermitte moet uitgereik word vir bewaringsgeriewe; geen invoerpermit word van die ontvangende land vereis nie; en ’n permit of sertifikaat moet binne sewe dae uitgereik word.
Miljoene ontsluit
Hierdie mylpaal ontsluit miljoene rande in buitelandse inkomste, bemagtig gemeenskapsgebaseerde bewaring en skuif winste van stropers na beskermers, se HL Diedericks, ’n renoster-eienaar.
In 2019 reeds het die wetenskaplike owerheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut gewaarsku dit is onwaarskynlik dat huidige beskermingsfinansiering volhoubaar is; wettige handel behoort ondersoek te word.
Ná hierdie uitspraak kan bewaringsinstellings hande vat met gemeenskapsreservate, en kan die etiese snoei van horings natuurlewebeskerming én plattelandse bestaansmiddele finansier.
“Die uitspraak is meer as net ’n wetlike oorwinning, dit is ’n reddingstou vir renosters en ’n stap vorentoe na 21ste-eeuse bewaring,” sê Diedericks.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
 
                
 
                             
                             
                             
                             
                             
                     
                     
             
             
            
 
                    