On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Talle rolspelers betrokke by kameelperddroom

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 04 Nov 2025

Talle rolspelers betrokke by kameelperddroom | News Article
Kameelperdnavorsing is broodnodig om uitsterwing te voorkom. Foto: Pexel.com

Dit het ’n saak van dringendheid geword om kameelperde te red en te bewaar.

Dit het ’n saak van dringendheid geword om kameelperde te red en te bewaar. Die afgelope drie dekades het die vasteland se kameelperdbevolking met byna 40% afgeneem vanweë onder meer habitatverlies, stropery, klimaatsverandering en inteling.

Wetenskaplikes onder leiding van prof. François Deacon van die Universiteit van die Vrystaat is die wêreldleiers in navorsing. Onder hulle leiding het ’n navorsingstasie oor kameelperde onlangs op die Amanzi-reservaat by Bloemfontein geopen.

“Ons by Absolute Genetics is onlangs deur die universiteit genader om betrokke te raak by die reproduksiekant van die navorsing op kameelperde,” sê dr. Collin Albertyn, reproduksieveearts by Absolute Genetics.

Dis die enigste maatskappy op die vasteland met die moderne voortplantingtegnologie. Hulle kan geslagsbepaling doen en sodoende kan koeie geselekteer word.

Volgens Albertyn is twee van die sewe spesies of subspesies hoogs bedreig en sal hulle waarskynlik binne die volgende paar jaar uitsterf sonder ingryping en die skep van nuwe teelmateriaal. Nog belanghebbendes in die kameelperdnavorsing is onder meer Ramsem, ook ’n reproduksiemaatskappy wat betrokke is by die tap van saad by bulle, eierselle aspireer by die kameelperdkoeie, embriospoelings en ook die embrio-oorplasings.

“Daar is twee roetes wat ons kan volg met die eier- en spermselle: Vars saad en eierselle kan gebruik word om embrio’s te vorm, en die saad en eierselle kan gevries word. Ons het masjiene wat spermselle kan skei om spesifiek ’n bulletjie of versie te kry.

“Hierdie tegniek gebruik ons veral by skape, beeste, bokke en ook met ’n paar wildspesies,” sê Amaria Pietersen, bestuurder by Ramsem Bulstasie.

Opgewondenheid heers op die navorsingstasie om eindelik nuwe teelmateriaal te hê en die geheime van kameelperdnavorsing te ontsluit.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.