Agriculture
Tulpe mooi, maar dodelik vir beeste─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 06 Nov 2025
Tulpe se helder kleure en elegante voorkoms versier menige tuin en plaaswerf.
Daaragter skuil egter tulpvergiftiging, ’n stille gevaar. Vir vee, veral beeste en kleinherkouers, kan die inname van tulpbolle ernstige gevolge inhou en selfs dodelik wees.
“Tulpvergiftiging word veroorsaak deur ’n plant wat wydverspreid in Suid-Afrika voorkom. Dit is ’n bolplant uit die genus Moreae, en daar kom verskillende spesies daarvan voor,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein se veterinêre laboratorium.
“Op Boere-Afrikaans praat ons van geeltulp en bloutulp, wat verwys na die blomme se kleur. Die plant se giftige bestanddeel is hartglikosied, wat beteken dit tas hoofsaaklik die hartspier aan.”
Vergiftiging kom gewoonlik in beeste voor, omdat hulle minder kieskeurig vreet as skape en perde. Die jong tulp lyk baie na gras en word dikwels sommer saam met die gras ingeneem, vertel Bester-Cloete.
Kieskeurige vreters soos skape en bokke sal nie die plant vreet nie, behalwe wanneer dit al is wat te ete is. Jong diere moenie aleen wei in ’n kamp met tulpe, waar daar nie ouer diere is wat die voorbeeld stel oor wat om te vreet en wat om te vermy nie.
Die plant bly giftig, selfs wanneer dit gedroog is. Dit beland dikwels in veevoer.
Die tekens van tulpvergiftiging onder vee is wanneer die dier lam in die agterlyf raak en soms val of struikel. Partykeer ly hulle aan erge diarree, wat dikwels swart is weens bloeding in die dermkanaal.

Tulpvergiftiging kan dodelik wees vir vee, omdat die hartspier aangetas word. Foto: Botaniese Vereniging van Suid-Afrika (Vrystaat-tak)
Diere sal later gaan lê en nie weer opstaan nie, hoewel die kop steeds sal kan beweeg. Daarna tree die dood gewoonlik in weens hartversaking.
Tulpvergiftiging is egter nie altyd dodelik nie. Navorsers het bevind die grondtipe, seisoen en reënval, die dier se gewig in verhouding met met die inname, en die soort tulp bepaal die giftigheid daarvan.
“Daar is gelukkig ’n teenmiddel,” sê Bester-Cloete. Geaktiveerdekoolstof-poeier, wat by veeartse en veewinkels te koop is, is hoogs doeltreffend.
“Ek beveel aan dat ’n bees minstens 500 g hiervan saam met water toegedien moet word. Die dosis kan twaalf uur later… herhaal word as daar nog simptome is.

Tulpe is pragtig, maar dodelik vir vee. Foto: Botaniese Vereniging van Suid-Afrika (Vrystaat-tak)
“Behandeling moet so gou moontlik begin word en (die dier) moet sommer in die veld gevang en gedoseer word. Indien die dier ver na die kraal aangejaag moet word, oorleef baie van dié wat vergiftig is dit nie,” voeg sy by.
Dosering moet reg geskied. Diere se tong moenie uitgetrek word nie, dan kan hulle nie sluk nie en die koolstof kan in die longe beland. Diere kan ná dosering diarree ontwikkel, maar hulle herstel gou.
“Ken jou veld en jou kampe,” maan Bester-Cloete. “As daar enigsins tulpe voorkom, sorg dat jy minstens twee dosisse koolstof sommer by jou in die voertuig het om behandeling so gou moontlik te begin.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

