Agriculture
Bewegingsplan vir bek-en-klouseer in Wes-Kaap saamgestel─── ISABEL VAN TONDER 09:00 Sat, 08 Nov 2025
Agri Wes-Kaap en die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het bevestig dat daar ’n omvattende bewegingsplan saamgestel is.
Hierdie plan is in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou en veeartsenydienste in werking gestel om die huidige uitbreking in die Gouda-omgewing te bestuur.
Die plan fokus op die beheer, monitor en voorkoming van verdere verspreiding van die siekte in Gouda. Agri Wes-Kaap beklemtoon die verspreiding is nie net ’n risiko vir die rooivleisbedryf nie, maar ook vir die hele Wes-Kaap se landbousektor. Die doel van die plan is om die siekte te beperk, te beheer en uiteindelik uit te roei.
Die plan definieer elkeen se verantwoordelikhede:
- Departement van landbou en veeartsenydienste: Dis die hoofagentskap vir siektevestiging, kwarantynbeheer, toetse en epidemiologiese opsporing.
- Agri Wes-Kaap: Die organisasie koördineer die samewerking tussen die regering en die landbougemeenskap deur kommunikasie, bewusmaking, logiestieke ondersteuning en hulpbronne vir biosekuriteit.
- Provinsiale verkeersdepartement en polisie: Stel padblokkades en beheerposte op.
- Distrikte en plaaslike owerhede (Kaapse Wynland en Weskusdistrikte) bied rampbestuur, gesondheid en logistieke ondersteuning.
- Produsente en landbouorganisasies: Hulle pas streng biosekuriteit op plase toe en rapporteer ook enige verdagte gevalle.
Rondom die plaas moet ’n biosekuriteitsgebied van10 km opgestel word. Binne hierdie gebied sal alle beweging van diere, voer en moontlike besmette materiaal streng beperk word. Padblokkades gaan ook opgestel en aktief beman word. Vervoerders word ook gemaan om die korrekte dokumentasie byderhand te hê om enige diere te vervoer.
Indien die korrekte dokumentasie nie byderhand is nie sal die staatsveearts onmiddellik in kennis gestel word. Agri Wes-Kaap maak ook gebruik van LPR-tegnologie (outomatiese nommerplaatherkenning) om motors te monitor.

Verskeie biosekuriteitsmaatreels is ingestel om bek-en-klouseer te beheer. Foto: Pexel
Die RPO en Agri Wes-Kaap het die verskeie rolspelers bedank vir hulle vinnige optrede om die siekte te beheer en te voorkom.
Daar sal vanaf Saterdag (8/11) met inentings begin word. “Die spoed waarmee hierdie plan saamgestel en geïmplementeer word wys die waarde van ’n goeie gekoördineerde vennootskap tussen georganiseerde landbou en die regering,” sê Louis Wessels, regsbestuurder van Agri Wes-Kaap.
“Ons bly gefokus op die beskerming van die provinsie se veebedryf en die handhawing van biosekuriteit op elke vlak.”
Agri Wes-Kaap versoek dat diere nie aangekoop en vervoer word sonder die nodige dokumentasie nie, Hulle moet slegs by veilings aangekoop word wat voldoen aan die APAC se voorskrifte. Voertuie wat diere vervoer moet gewas en ontsmet word en enige voer wat diere vergesel moet vernietig word. ’n Veearts moet die nodige gesondheidsertifikaat uitreik en verdagte gevalle onmiddellik aanmeld.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

