On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Probleemplante op plase bly ware “kanniedood”-probleem

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 11 Nov 2025

Probleemplante op plase bly ware “kanniedood”-probleem | News Article
Die olieboom se saad kan tot 100 jaar onder die grond bly, gereed vir ontkieming. Foto: Charlie Reinhardt

Menige boer voer daagliks ’n stryd teen indringer- en probleemplante wat hardnekkig bly groei, ongeag hoeveel keer hulle uitgeroei word. Dis nie verniet dat die gesegde lui: Onkruid vergaan nie.

Oliebome, bankrotbos, kankerroos, pompoms en boetebos is van die grootste kopseerplante op Suid-Afrikaanse plase. Hulle verdring inheemse plantegroei, verlaag weiding en kan selfs gewasse vergiftig.

Van dié vyf is bankrotbos die enigste inheemse spesie. Hy het sy naam gekry omdat hy op ’n plaas kan “bankrot maak” – min gras of weiding groei waar hy vastrapplek kry. 


Boetebos hou veral van klipperige dele en verdig maklik, wat grasgroei verder belemmer.

Aanpasbaar en taai

Probleemplante is uiters goed aangepas by verskillende omgewingstoestande en kan stres verdra wat gewasplante nie kan nie. Oorbeweiding skep dikwels die ideale omgewing vir hierdie plante om te floreer.

Die pers pompom is byvoorbeeld nie ’n struik nie, maar ’n kruidagtige plant met harige stingels en ’n onaangename smaak vir diere. Hy oorleef maklik in enige klimaat, veral in grasveldgebiede.

“In die sewentigerjare is die plant die eerste keer aan die voet van die Voortrekkermonument ontdek, waar tuinafval gestort is,” sê prof. Charlie Reinhardt, voormalige hoof van die Departement van Plantproduksie en Grondkunde by Tukkies. 

Ondergrondse wortelstelsel

“Sedertdien het dit versprei tot by Pietermaritzburg en selfs Tzaneen.” 

Volgens Reinhardt is die plant moeilik om te beheer “omdat daar ’n groot ondergrondse wortelstelsel is. Jy kan hom bo afkap en met onkruiddoder probeer beheer, maar hy groei weer van onder af.”

Boetebos is doringrig en reeds in 1860 deur die Kaapse regering as onkruid verklaar. Grondeienaars kon beboet word as hulle dit nie beheer nie. 

Purperwinde is ’n plant wat gewasse as gasheer gebruik en is ’n probleemplant  Foto: Charlie Reinhardt

Elke vruggie bevat twee sade – een ontkiem die volgende jaar – en die hakkies aan die vrug was die oorspronklike inspirasie vir Velcro, sê Reinhardt. 

Oliebome, familie van die aartappel, tamatie en tabak, is groot eenjarige plante met wit of pers trompetvormige blomme. Die hele plant is giftig, en selfs een saad in ’n graanbesending kan daartoe lei dat die hele besending afgekeur word. 

Die saad bevat atropien, wat wel in medisyne gebruik word, maar kan tot 100 jaar in die grond oorleef – ’n enorme uitdaging vir boere.

Beheer bly uitdagend

Purperwinde is ’n rankplant met wit of pers blomme wat om gewasplante draai. Soos oliebome kan hul sade graanbesendings besoedel en veroorsaak dat dit afgekeur word.

Kenners beveel aan dat boere verskeie metodes kombineer om onkruid te beheer – van bespuiting en brand tot afsny of meganiese verwydering. Chemiese beheer bly effektief, maar weerstand teen sekere middels raak toenemend ’n probleem.

“Hierdie is ongelukkig ’n wêreldwye uitdaging met langtermyngevolge,” sê Reinhardt.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.