Agriculture
Moontlike bek-en-klou-geval by Sparta Beef─── ISABEL VAN TONDER 11:26 Tue, 11 Nov 2025
Sparta Beef ondersoek die moontlike indiening van vervalste dokumentasie saam met beeste, wat uit die Wes-Kaap na sy Clocolan- en ander kwarantynstasies gestuur is.
Sparta Beef ondersoek die moontlike indiening van vervalste dokumentasie saam met beeste, wat uit die Wes-Kaap na sy Clocolan- en ander kwarantynstasies gestuur is. Die firma het die Vrystaatse veeartsenydienste in kennis gestel van ’n vermoedelike geval van bek-en-klouseer.
Dis by Sparta Beef se beesvoeraanleg op Marquard geïdentifiseer is, luidens die firma se kommunikasieafdeling.

Daar is 'n moontlike geval van bek-en-klou by Sparta Beef aangeteken Foto: Pexel
Ná ontvangs van die verslag het veeartsenydienste visuele ondersoeke by die aanleg uitgevoer. Geen beeste wat duidelike tekens van bek-en-klouseer toon, is waargeneem nie.
Verskeie diere, insluitend die drie wat aanvanklik deur Sparta Beef geïdentifiseer is, is egter deur die staatsveearts ondersoek. Letsels wat ooreenstem met moontlike bek-en-klouseer is Vrydag 7 November aan die tonge van drie beeste gevind.
Deppers en bloedmonsters is vir diagnostiese toetse na Onderstepoort se oorgrensdieresiekte-laboratorium getuur. Die Marquard-voerkraal is onder kwarantyn geplaas in afwagting van die laboratoriumuitslag.
Meer aktiewe deelname
Sparta Beef handhaaf streng biosekerheidsprotokolle voordat beeste by die kwarantynstasies aanvaar word. Verdere opdaterings sal deurgegee word sodra die laboraoriumresultate beskikbaar is.
Intussen sê dr. Dave Migley, voorsitter van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), die krisis in Suid-Afrika se dieregesondheid vereis nouer samewerking tussen die staat, privaat veeartse en produsente. Hy het tydens Landbouweekblad se veeakademie by NAMPO Alfa gepraat en gesê die staat het ’n versoek aan privaat veeartse gerig om meer aktief deel te neem aan die beheer van staatsbeheerde siektes soos bek-en-klouseer, brucellose en hondsdolheid.
“Ons moet nou duidelik maak hóé ons graag bemagtig wil wees,” sê hy en waarsku die stelsel reageer te stadig. “Teen die tyd wat die staat bloed trek en inenting begin, het die siekte reeds deur die kudde versprei.”
Daar is nou 74 bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat. In die omgewing van Viljoenskroon/Vredefort, Parys, Deneysville/Sasolburg, Bothaville en Edenville is nuwe gevalle aangemeld.
Die landboudepartement gee voorkeur aan die inenting van beeste in dié gebiede en het nog entstowwe bekom.
In ooreenstemming met die aankondiging in die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) vra die departement alle boere, afslaers en spekulante moet die beweging van gehoefde diere beperk, streng biosekerheidsmaatreëls volg, enige nuwe vee vir 28 dae isoleer, noukeurig rekord hou en enige verdagte gevalle dadelik by die staatsveearts aanmeld.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


