Agriculture
Vrystaat Landbou: Misdade styg gewoonlik in feestyd op plase─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 17 Nov 2025
Jaarliks in die feestyd neem misdade soos plaasmoorde, veediefstal, onwettige jag met honde, koperdiefstal en huisbrake toe.
“Onlangs is op een slag by ’n boer 16 verse ter waarde van R18 000 elk gesteel,” sê Isabel Kruger, veiligheidsverteenwoordiger en veediefstalspesialis by Vrystaat Landbou. “Dit word al duideliker die inligting kom vanuit die boer se eie geledere.”
Die organsisasie vra elke boer moet noukeurig rekord hou van sy werknemers se besonderhede en agtergrond. Dit help ook om diere gereeld te tel en bewus te wees van hul bewegings. “Raak deel van landelikebeveiliging en ry snags patrollie,” sê sy.
Plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat neem toe. Die nasionale landelikebeveiligingstrategie wil veral ernstige geweldsmisdade op die platteland bekamp. Boere ervaar ook ’n toename in die diefstal van kunsmis en saad, koper, sonpompe en -panele, asook huisinbrake.
Boere word gemaan om nie enige misdadiger te konfronteer nie, aangesien dit maklik in geweldsmisdaad kan ontaard.
“In al die misdade is daar elemente van georganiseerde misdaad en is misdadigers gewapen. Boere moet deel wees van die veiligheidstruktuur in hul omgewing en verdagtes se inligting moet deurgegee word aan die polisie en boereverenigings in die omgewing.”

Veediefstal neem toe in die feestyd. Foto: Pexel
Boere word versoek om AgriSA se borde by hekke/ingange of grensheinings aan te bring. Meld alle sake by die polisie aan, hou rekord van saaknommers, neem foto’s van voertuie en verdagtes en volg op wat gebeur in die hof.
Foto’s mag egter nie op sosiale media versprei word nie. Die polisie en veral landelikeveiligheidkomitees kan versoek word om patrollies te ry om tendense of patrone te bepaal, asook om bewusmakingsveldtogte onder swart gemeenskappe te loods.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

