On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Die hart van landbou klop op Bloemskou

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 19 Nov 2025

Die hart van landbou klop op Bloemskou | News Article
Bloemskou vind plaas vanaf 23 April tot 2 Mei 2026. Foto: Pexel

Bloemskou, wat van 23 April tot 2 Mei plaasvind, is een van Suid-Afrika se mees gevestigde en geliefde skoue en jaarliks ’n hoogtepunt op die landboukalender.

Die 2026-aflewering dra die tema “’n strandpartytjie”. Die landbouafdeling vorm die ruggraat van die geleentheid en bied ’n indrukwekkende venster op dieregehalte, tegnologie, boerderyvernuf en die mense wat die bedryf lewendig hou.

Die meer as eeuoue Bloemskou is een van Suid-Afrika se oudste landboutentoonstellings. Stoetafdelings lok die voorste telers van regoor die land; beeste, skape, perde, bokke en pluimvee word deur kundige beoordelaars volgens streng standaarde beoordeel.

Vir jong boere en opkomende produsente is die skou ’n gulde geleentheid om kennis te maak met nuwe innovasies, dikwels vergesel van praktiese demonstrasies en kundige raad.

“Gedurende Bloemskou word meer as 5 500 beeste, skape en perde verwag in 21 kampioenskappe, waarvan tien nasionale kampioenskappe is,” sê Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou. 

“Die grootste opelugsaalperdskou ter wêreld vind ook tydens Bloemskou plaas. Die landbouprogram is reeds vol bespreek en die uitstalruimtes en vermaakprogram is ongeveer 80% gevul.”

Die grootste opelugsaalperdskou ter wêreld vind tydens Bloemskou plaas. Foto: Pexel

“Bloemskou dra jaarliks aansienlik by tot die streek se ekonomie. Van werkskepping tot toerisme en plaaslike handel – die skou gee ’n merkbare ekonomiese hupstoot.”

Wat Bloemskou besonders maak, is die mengsel van tradisie en vernuwing. Die kernidee om landbou te vier bly dieselfde, maar die aanbiedings word voortdurend vernuwe om by die eise van elke nuwe era in te skakel.

Volgens Prinsloo is daar byvoorbeeld skeer-, spin- en breidemonstrasies, die Absa-slaglamkompetisie as ’n nuwe item op die program, en talle nasionale kompetisies vir beeste, perde en kleinvee. Besoek Bloemskou of stuur ’n e-pos na info@bloemskou.co.za vir nog inligting.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.