Agriculture
Wanneer muskiete probleme bring: slenkdalkoors─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 25 Nov 2025
Slenkdalkoors is ’n siekte waarvan boere nie graag wil hoor nie. Ná goeie reën en warm, vogtige toestande kan muskiete die virus vinnig versprei. Benewens groot ekonomiese verliese is slenkdalkoors ook gevaarlik vir mense.
Die siekte kom veral by skape, bokke en beeste voor, maar wild spring dit nie vry nie. Muskiete is die hoofoordraers, hoewel bytende insekte soos steekvlieë dit ook kan versprei.
In droë jare oorleef lae vlakke van die virus vermoedelik in muskietpopulasies, waarna dit in natter seisoene skielik uitbreek.
“Die inkubasietydperk is baie kort,” verduidelik dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts by die Bloemfonteinse veterinêre laboratorium. “Binne minder as 24 uur sien ons dat groot getalle skape en bokke aborteer.
“Ander simptome sluit in vrektes, koors, lusteloosheid, oog- en neusafskeiding en diere wat sukkel om te vreet of water te drink. Wanneer mense aansteek, is die simptome aanvanklik soos griep, maar dit kan ernstig raak en selfs tot blindheid of dood lei.
“Die virus versprei ook maklik deur die beweging van besmette muskiete, trekwild en vee wat in trokke vervoer word.” Enting is ’n belangrike beskermingsmaatreël.

Slenkdalkoors is gevaarlik vir mens en dier. Foto: Pexel
Dragtige diere kan met ’n geïnaktiveerde entstof geënt word, maar dit bied nie langdurige beskerming nie. Lewende entstowwe hou egter risiko’s vir dragtige diere in.
“Wanneer jy enigsins vermoed dat jou diere slenkdalkoors het, moet jy dit onmiddellik by jou veearts of staatsveearts aanmeld,” beklemtoon Bester-Cloete. “Lig ook jou bure in sodat hulle waaksaam kan wees.
“Behandel diere ondersteunend en probeer insekkontak so ver moontlik beperk. Skuif kuddes na hoër, droër gebiede weg van vleie en oop water waar muskiete ’n groter probleem is.
Veiligheid bo alles
“Dooie diere moet begrawe of verbrand word. Geaborteerde fetusse en nageboortes hou die grootste risiko vir mense in, daarom moet oorpakke, handskoene en gesigsmaskers altyd gebruik word.
“Maak seker jou werkers weet hulle mag onder geen omstandighede karkasse eet nie.”
Slenkdalkoors herinner boere daaraan hoe vinnig dinge op ’n plaas kan skeefloop, sê sy, maar dit wys ook die veerkragtigheid van produsente. Vroeë optrede bly die beste beskerming vir mens en dier.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

