On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Slange: Feite, foute en mites

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 26 Nov 2025

Slange: Feite, foute en mites | News Article
Slange het ’n belangrike rol in die balans van die natuur. Foto: Facebook/Johan Marais

Die somer breek aan en slange ontwaak uit hul winterslaap.

In die somerreënstreek spoor neerslae meer van dié reptiele aan om meer te voorskyn te kom. Suid-Afrika se sowat 125 slangspesies kom in alle uithoeke van die land voor, maar net ’n breukdeel is giftig.

Statistieke toon die Kaapse kobra, geelslang en swart mamba is vir die meeste sterftes verantwoordelik. “Daar is jaarliks sowat twaalf tot 20 sterftes in Suid-Afrika, en ernstige byte word veroorsaak deur die Mosambiekse spoegkobra en die pofadder,” sê Johan Marais, hoof van die Afrika Slangbytinstituut in Pretoria.


Dié twee spesies “het ’n sitotoksiese gif, wat baie pyn en weefselskade veroorsaak. Die nagadder en sypikslang (stiletto snake) is ook baie giftig. 

Die sypikslang veroorsaak erge weefselskade en mens kan ’n duim of vinger verloor na twee tot drie weke.”

Slange pik uit desperaatheid wanneer hulle bedreig of vasgekeer voel, of wanneer iemand hulle seermaak of op hulle trap. As ’n mens op ’n slang afkom, sê Marais, moet jy vyf tree wegbly om veilig te wees, maar die beste raad is om dadelik pad te gee.

Belangrike ekologiese rol

Slange het geen behoefte om mense aan te val nie, verduidelik hy. “Slange vervul ’n belangrike rol in die ekologie en elke dier het sy plek in die balans van die natuur.”

Heelparty mense beland in die hospitaal omdat hulle probeer het om die slang dood te maak en dan gebyt word. “Die heel eerste prioriteit wanneer iemand deur ’n slang gebyt word, is om so spoedig moontlik by ’n hospitaal uit te kom. Nie jou dokter of kliniek nie; die hospitaal kan help met asemnood.

“’n Kind wat gepik word deur ’n Kaapse kobra – wat veral in die Vrystaat voorkom – kan binne een tot sewe uur sterf. Nie alle slangbyte word behandel met teengif nie; dokters behandel die byt simptomaties. 

Die vel van die Mosambiekse spoegkobra, een van die giftigste slange. Foto: Facebook/Johan Marais

“Van die sowat 4 000 slangbyte jaarliks word slegs 10% met teengif behandel.”

Teengif vir die giftigste tien spesies, soos mambas en rinkhalse, is 125 jaar lank in Suid-Afrika vervaardig. Slange word “gemelk” in laboratoriums, en perde word dié gif in klein hoeveelhede ingespuit. 

Die hele proses duur omtrent nege maande, vertel Marais. Die perd bou ’n immuniteit op, en elke twee maande word sowat 9 L van die perd se bloed getrek.

Bly weg van boererate

Dit word verwerk en die serum verwyder, wat gesuiwer word. Slangserum is die enigste doeltreffende behandeling teen slanggif.

“Boere moet asseblief wegbly van boererate; daar is niks anders wat werk as teengif teen ’n byt nie,” sê Marais. Die raad om byvoorbeeld perde met petrol in te spuit, of melk of houtskool in hul keel te forseer, is “absoluut barbaars en gaan net die dier se lyding vererger”.

Nuwe middels word getoets, maar dis peperduur.

Die pofadder word as een van die giftigste slange beskou. Foto: Facebook/Johan Marais

“Die beskikbaarheid van teengif is tans ’n gemors,” sê Marais. “Ná Covid-19 het die laboratoriums begin probleme optel met vervaardiging, en tans word daar ’n teengif van Indië af ingevoer.

“Veeartse en hospitale hou teengif aan, en dis hul verantwoordelikheid. Slange beweeg nie in pare nie en kan mense nie jaag nie. Ek stel voor dat elkeen ’n slangboek aanskaf of die app ASI Snakes op hul foon aflaai om korrekte kennis van slange te verkry.” 

Meer inligting is verkrygbaar by 082 494 2039. Plakkate van slange, gebiede en mediese behandeling is verkrygbaar by die instituut.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.