Agriculture
Jongboer-kompetisie is baken van hoop vir landbou─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 01 Dec 2025
Die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie is nie net ’n erkenning van uitnemendheid nie, maar ’n viering van die boerderygees wat Suid-Afrika voedselsekerheid bied.
Elke jaar skyn die kollig op jong stemme wat die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou vorm. Francois Rossouw, tafeldruifboer van die Hexriviervallei by De Doorns, is Woensdagaand (26/11) op ’n glansgeleentheid in Johannesburg as wenner aangewys.
Rossouw was die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar. Hy is die vierde geslag wat boer op die plaas Mooigezicht Estates, waar hy en sy vrou, Jean-Mari, voltyds betrokke is by die verbouing van verskeie tafeldruifkultivars op 400 ha. Hy beskou dié eerbewys as ’n groot voorreg vir sy tuisprovinsie.
Die vennootskap tussen Toyota SA en Agri SA strek oor dekades en die kompetisie is gevestig as een van die belangrikste platforms vir jong boere.
Deelnemers word nie net beoordeel op produksie en finansiële prestasie nie, maar ook op volhoubaarheid, gemeenskapsdiens en tegnologie wat sinvol in hul bedryf geïntegreer word. Wat die wenner ook onderskei is die manier waarop hy landbou as ’n roeping beskou.
“Ek het die groot voorreg gehad om op die plaas groot te word,” het Rossouw ná die geleentheid aan OFM Agri gesê. “Ek het die belangstelling van jongs af gehad. Die familiebesigheid lê my na aan die hart en dis ’n voorreg om as wenner aangewys te word.”

Boere van oor die land heen het die glansgeleentheid in Johannesburg bygewoon. Foto: Isabel van Tonder
“Die grootste geheim in ons boerdery is die mense wat elke dag saam met my werk. Ons probeer elke dag om ons personeel se persoonlike omstandighede te verbeter.”
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Rossouw vergestalt alles wat ons in jong boere wil sien: uitnemendheid, beginselvaste leierskap en ’n ware roeping om landbou te dien.
“Sy prestasie bied nie net goeie blootstelling vir die Wes-Kaap of jong boere nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse talfeldruifbedryf.”

Hy is betrokke by die verbouing van verskeie tafeldruifkultivars. Foto: Pexel
Rossouw is bekend vir sy deelnemende bestuurstyl, sy vermoë om ’n span te inspireer en sy onwrikbare ingesteldheid op gehalte. Van gevorderde besproeiingstegnologie tot maatskaplikeontwikkeling-inisiatiewe en sy benadering is holisties, mensgesentreerd en strategies.
“Hierdie prestasie is nie myne alleen nie; dit behoort aan die hele Mooigezicht-span, ons gemeenskap en my familie wat agter my staan.
“Dit is is ’n fantastiese geleentheid om ons plaas, ons streek en die tafeldruifbedryf op nasionale vlak te verteenwoordig. Ek glo die Here lei ons werk daarom kan ons met oorgawe bou aan ’n boerdery wat mense se lewe verander.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder dg

