Agriculture
Eerste privaat landbougraadkursus in SA bekend gestel─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 02 Dec 2025
Die eerste privaat B. Agric.-graad in Afrika is onlangs bekend gestel.
Die vennootskap tussen i3A en die Isago-universiteit in Botswana het ’n mylpaal in Afrika se hoër onderwys behaal met die bekendstelling van dié graad. Die B.Agric. word beskou as ’n groot oorwinning, aangesien dit die eerste keer is dat ’n privaat instelling die mandaat en bevoegdheid kry om ’n volledige landbougraad aan te bied.
Dié ontwikkeling ontlok wye belangstelling en nasionale media-aandag.
Deur ’n kombinasie van akademiese uitnemendheid, moderne tegnologie, praktiese boerderyopleiding en die beproefde i3A-platform Agri-pedia is die B.Agric.-graad ontwerp om ’n nuwe generasie professionele produsente, landboukundiges en landbousakeleiers op te lewer.
“Studente is nie net teoreties sterk nie, maar kry ook praktiese opleiding in landbou en verwante gebiede,“ sê Johann Stassen, uitvoerende bestuurder van i3A, die Internasionale Landbou-akademie vir Afrika. “Ons strewe is om die volgende generasie landbouleiers op te rig.”
Die graad is enig in sy soort: Dit kombineer akademiese kennis oor terreine soos veekunde, plantkunde en grondkunde met saai- en markverwante praktykervaring. Tegnologie en innovasie soos akwaponika, hommeltuie, moderne gereedskap en ander tegnologies gevorderde velde word intensief bestudeer asook die praktiese deel van boerdery.
Die graad is bedoel vir jong mense wat geroepe voel om landbou te betree, skoolverlaters en bestaande produsente, wat hulle kennis wil verbreed. Die kampus is ’n e-leerinstansie met bykans 400 studente landwyd. ’n Satellietkampusmodel help die praktyk by die teorie uitbring en studente kan voltyds studeer, inwoon en ook die studentelewe ervaar.

Studente van sover as Limpopo het die bekendstelling bygewoon. Foto: Johann Stassen
“Ons fokus is op praktiese ondervinding; studente werk op plase,” sê Stassen. “Studente leer volgens die standaarde van die bedryf; so verseker ons dat studente werklik vir die werksplek gereed is en nie net oor teoretiese kennis beskik nie.
“Ons is ’n klein kampus met kleiner klasse waarin elke student gehalteaandag ontvang. Ons studente kry toegang tot moderne landbouplatforms en netwerk met landbouspesialiste.”
Innames vir 2026 vind reeds plaas. Die belangstelling is besonders hoog en voornemende studente word aangemoedig om betyds aansoek te doen. Daar is beperkte plek beskikbaar vir die eerste jaar se inname. Aansoeke sluit op 15 Januarie.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

