Agriculture
Ken jou papierwerk: vereiste dokumente vir veeverhandeling─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 07 Jan 2026
Kennis oor die dokumentasie wat benodig word tydens verhandeling van vee is uiters belangrik.
Elke landbouer, afslaer en agent moet van verskeie stukke wetgewing bewus wees. Die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959), die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) en die Dieregesondheidswet (Wet 7 van 2002) is die belangrike wette waarvan kennis geneem moet word wanneer diere verskuif, gekoop of verkoop word.
Benewens dié wette val lewendehaweagente en afslaers ook onder die landbouprodukte-agenteraad (Apac), maar dit is ook van toepassing op die verkoper.
“Dit is ou wetgewing en dit word nou vir die eerste keer behoorlik toegepas, ongelukkig is daar landbouers en ook (polisiebeamptes) wat die wette nie behoorlik ken of verstaan nie,” sê Isabel Kruger, veiligheidsverteenwoordiger en spesialis in veediefstal by Vrystaat Landbou.
Die Artikel 6-dokument is spesifiek bedoel vir die oordraging van eienaarskap en die Artikel 8-dokument is die verwyderingsertifikaat. In die bedryf word die twee artikels dikwels op een bladsy gedruk.
Maar die wetlike vereiste inligting op die twee dokumente verskil; daarom kan dit nie een dokument wees nie.
Verskaf inligting oor herkoms
Enigeen wat in besit is van vee of veeprodukte (karkas, deel van karkas, vel, kop of pote), moet ’n bevredigende antwoord kan verskaf oor die herkoms van die produkte, anders kan die vermoede ontstaan dat dit gesteel is. Artikel 6(1) bepaal dat niemand diere in besit kan neem wat hy gekoop het of gegee is (onder wie ook afslaers en lewendehaweagente) sonder om die Artikel 6-dokument saam te ontvang nie.
Inligting wat daarop moet verskyn, is onder andere volle name en adresse van koper en verkoper, brandmerksertifikaat, datum van transaksie, volle identifikasie van diere waaroor transaksie gaan en handtekeninge.
“Jy mag nie vee aankoop van ’n privaat persoon of veiling sonder dat die dokument oorhandig word nie,” voeg Kruger by, “en die wet bepaal dat die diere nie in ontvangs geneem kan word sonder die dokument nie.”
Wanneer vee geskuif word van een plaas na ’n ander is dokumentasie nodig. Foto: Pexel
Artikel 8 is die verwyderingsertifikaat vir produkte of vee wat aangejaag of vervoer word op of langs ’n openbare pad. “Indien jy jou diere skuif op ’n openbare pad, waarvan (weerskante) nie jou eiendom is nie, byvoorbeeld van een plaas na ’n ander, moet die hanteerder in besit van ’n Artikel 8-dokument, anders kan dit as gesteelde vee geag word.”
“Enigeen wat diere vervoer, moet ook ’n Artikel 8-dokument besit. Die gesondheidsklaring moet ook die dokument vergesel,” sê Kruger.
“As jy enige vals dokumente uitreik, sal jy aangekla word met (die moontlikheid van) baie hoë boetes en ook tronkstraf.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

