Agriculture
Vrystaat Landbou vra dringende optrede─── ISABEL VAN TONDER 12:23 Fri, 09 Jan 2026
Vrystaat Landbou (VL) doen ’n dringende beroep op die landbouminister om bek-en-klouseer tot ramp te verklaar.
Vrystaat Landbou (VL) doen ’n dringende beroep op John Steenhuisen, minister van landbou, om bek-en-klouseer tot ramp te verklaar. Die organisasie vra dat die bepalings van die Wet op Dieresiektes herroep word.
Dit gee staatsinstellings, wat hy “onbekwaam” noem, alleenreg om entstowwe in te voer, te berg en te versprei en laboratoriumtoetse te doen.
Ten spyte van beste pogings om staatsveeartsenykundiges, leierboere en kommoditeitsorganisasies wat lede aanspoor om saam te werk en aan regulasies te voldoen, vereis die ongekende toename in bek-en-klouseergevalle ’n dringende ingryping.
Optrede
VL sê dringende optrede is nodig vir die ministeriële taakspan om:
- Pirbright-entstofparing te identifiseer om te verseker die land het die regte entstowwe vir die regte variante;
- die beskikbaarheid van entstowwe aan staats- en private veeartse te magtig met die nodige naspeurbaarheidsprotokolle;
- korrekte entstofinvoer van betroubare maatskappye te magtig; en
- oop en deursigtige vryemark-entstofpryse te magtig.
Met hierdie eise dring VL daarop aan dat die minister en sy span hierdie kritiek dringende stappe sonder versuim doen.

Vrystaat Landbou vra dringende ingryping met die bek-en-klouseer. Foto: Pexel
“Daar is tans geen entstof beskikbaar vir staatsveeartse om in die Vrystaat toe te dien nie,” sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL. “Wat verder kommerwekkend is, is bevestigde verslae van waar die BVI-entstof, wat deur die staat uit Botswana verkry is, toegedien is.
“Die hele melkkudde het ses weke later steeds volle bek-en-klouseer gekry met ernstige gevolge.”
Armour betuig VL se meegevoel met “die suiwelboere wat besonder hard getref word met massiewe produksieverliese, en waar slegte mastitis intree, genadedood om die pyn en nood van die koeie te verlig. Verhoogde kalfsterftes word ook aangemeld en redes word ondersoek.”
Emosies
Die organisasie is bewus van ‘n toename in sosialemedia-aktiwiteit en die verspreiding van KI-geskepte videomateriaal wat bedoel is om op emosies te speel. Hy vra die publiek moet onderskei tussen vals en egte inligting en nie eersgenoemde versprei nie.
Friedl von Maltitz, adjunk-president van VL, sê: “Ons is ten volle bewus daarvan dat bek-en-klouseer as ’n biologiese wapen gebruik kan word om ’n ekonomie te destabiliseer; daarom is dit noodsaaklik dat die staat die nodige beheermaatreëls toepas.
“Die staat beskik duidelik nie oor die kapasiteit en bronne om die huidige krisis alleen te hanteer nie en die private sektor is gereed en gretig om by te dra.”
Staat misluk
As private entstowwe deur private invoer beskikbaar gestel word, sê hy, verwyder dit nie die verantwoordelikheid van die staat om die siekte te beheer nie. Die ondoeltreffende hantering veroorsaak dat boere, ter wille van oorlewing, die entstowwe self invoer teen hoë koste “omdat die staat heeltemal en volkome misluk, grensend aan wanadministrasie en nalatigheid”.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder dg

