Click on the warning image to view this post
Agriculture
Knopvelsiekte: Dodelike virus wat beesbedryf teister─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 12 Jan 2026
Knopvelsiekte is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat hoofsaaklik beeste affekteer.
Toenemende veebeweging en muggiebedrywighede het die siekte die laaste paar seisoene skerp laat toeneem. Dit versprei vinnig, veral in warm, nat seisoene wanneer insekte volop is.
Knopvelsiekte word veroorsaak deur ’n pokkevirus en gekenmerk deur stywe, harde knoppe aan die vel van die dier, soms honderde oor die hele liggaam, velletsels, wat later ’n kors kan vorm en etter dra, koors; geswelde limfknope, verminderde melkproduksie in suiwelbeeste, ’n afname in eetlus; gewigsverlies en swak groei by jong beeste.
In ernstige gevalle kan die knoppe oopbreek en ontsteking veroorsaak, wat die dier se welstand verder benadeel.
“Knopvelsiekte word meestal oorgedra deur bytende insekte, of meganiese metodes wanneer ’n trop beeste met dieselfde naald gespuit word,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveaarts by die Bloemfonteinse veterinêre kliniek. “Koors begin gewoonlik twee tot vier weke ná blootstelling aan die virus.
“Die oë sal traan, meer speeksel word afgeskei en die kliere onder die vel sal vergroot. Die koors sal dan daal en in die tweede fase van koors, vier tot tien dae later, sal die knoppies begin uitkom.
Verdere simptome
“Orals sal knoppies wees en dit lei ook tot swelling in die bene want die vloeistof onder die vel sak af na laer dele toe. Velletsels op die ooglede, spene, skrotum en soms dieper in die mond, in die slukderm en die res van die spysverteringskanaal is ’n groot probleem.”
Nog simptome is gewigsverlies, melkproduksie wat afneem, en dragtige diere sal fetusse aborteer. Indien die siekte in die spysverteringstelsel ingaan, kan dit tot die dood lei.
Soos met bloutong bestaan geen direkte behandeling nie; die simptome kan behandel word en die dier so gemaklik moontlik gehou word. “Ek hou daarvan om penisillien te spuit om velontsteking te voorkom, pynstillers en anti-inflammatoriese middels te gee, want dit bring die koors af en die dier voel dadelik beter.
Velletsels ontstaan waar die knoppe was en dit kan tot infeksie lei. Foto: Pexel
“Entstowwe in Suid-Afrika is baie effektief en ek beveel aan dat boere hulle diere ent. Dis ’n lewendige entstof wat wel veilig op dragtige diere gebruik kan word. Gemiddeld tien dae ná inenting word immuniteit opgebou.”
Bester-Cloete maan ook teen boererate, wat soms deur boere gebruik word. “Soms word Dettol en ander middels onder die dier se vel ingespuit. Moet dit asseblief nie doen nie.
“Behalwe dat dit erg brand en irritasie vir die dier veroorsaak, moet die dier se liggaam daarteen ook weerstand bied, en daar is geen bewyse dat dit die virus opklaar nie. My raad is om jou jong diere op ’n goeie inentingsprogram te hê, dit jaarliks op datum te hou en so nie bekommernisse te hê oor onverkrygbare entstof nie.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

