Agriculture
Verklaar bek-en-klouseer tot nasionale ramp, vra landboubedryf─── 14:59 Fri, 09 Jan 2026
Al meer stemme gaan op vanuit die landboubedryf wat vra die huidige bek-en-klouseer-krisis moet tot nasionale ramp verklaar word.
Vrystaat Landbou en Saai het Vrydag gevra die veesiekte moet tot ramp verklaar word. Om die veebedryf te red moet regulasies gewysig word om eerder die druk van die staat, wat klaaglik misluk het, na die private sektor en na boere self te verskuif, sê Francois Rossouw, Saai se uitvoerende hoof, in ’n verklaring.
Vrystaat Landbou (VL) doen op sy beurt ook ’n dringende beroep op John Steenhuisen, minister van landbou, om die siekte tot ramp te verklaar en vra die bepalings van die Wet op Dieresiektes moet herroep word.

Francois Rossouw, Saai se uitvoerende hoof, vra die regering moet bek-en-klouseer tot ’n nasionale ramp verklaar. Foto: Farmers Review Africa
Die wet gee “onbekwame” staatsinstellings alleenreg om entstowwe in te voer, te berg, te versprei en laboratoriumtoetse te doen. VL sê die ministeriële taakspan moet dringend aandag gee aan die kwessie van entstowwe om die geveg te kan wen.
Rossouw sê sedert Steenhuisen se aankondiging in November dat alle beeste (ongeveer 14 miljoen) ingeënt gaan word, het varke en kallers begin vrek van die siekte. “Die suiwel-, rooivleis- en stoetveebedrywe is in ’n bestaanskrisis gedompel en die department van landbou, wat volgens wet die siekte moet bekamp en bestuur, het grotendeels die boere se vertroue verloor.”
Boere se skeptisisme en kritiek op die departement se hantering van dié en ander staatsbeheerde siektes het niks te doen met rassisme of weerstand teen transformasie nie.

Jaco Mulder, VF Plus-wetgewerlid in Gauteng, kritiseer veral die landboudepartement se swak kommunikasie met die landboubedryf. Foto: Facebook/Jaco Mulder
“Die departement het nie die kapasiteit om die krisis te hanteer nie, en daar is geen ander uitweg as om met die private sektor in ’n vennootskap te tree nie. Dit is belangrik dat die private sektor so ’n vennootskap lei, vry van uitgediende ideologiese oorwegings, korrupsie en nepotisme, en partypolitieke belange.
“Dit (die vennootskap) moet sakesin maak, bek-en-klouseer (BKS) onder beheer kry, die rooivleisbedryf red en beesboerdery weer winsgewend en volhoubaar maak. Alle ander agendas moet nou hieraan ondergeskik wees.”
Jaco Mulder, VF Plus-wetgewerlid in Gauteng, sê die bestryding van die siekte is die staat se verantwoordelikheid en dit is duidelik dat die staat tot dusver daarin gefaal het om doeltreffende beheer toe te pas. Hy verwys na die voortdurende toename van gevalle in Gauteng en die buurprovinsies, veral in Wes-Gauteng en die Talton-omgewing.

Bronwynn Engelbrecht, Gautengse DA-wetgewerlid, verwelkom die stappe wat die minister ingestel het. Foto: Facebook/Bronwynn Engelbrecht
Mulder sê voorts dit is uiters kommerwekkend dat die departement nie sy beplande ingrypings en tydlyne met boere en met die bedryf kommunikeer nie. “Dit laat rolspelers moedeloos, weerloos en uitgelewer.”
Op haar beurt sê Bronwynn Engelbrecht, Gautengse DA-wetgewerlid, haar party verwelkom en ondersteun die stappe wat Steenhuisen reeds ingestel het.
Sy sê die DA-leier toon beslissende en wetenskap-gebaseerde leierskap in reaksie op die krisis regoor die land.
Verskeie munisipaliteite geraak
“Die minister se beleid ‘Bek-en-klouseer-vry met Inenting’ bied aan die land ’n realistiese en tegnies gesonde padkaart om vertroue in uitvoermarkte te herstel, nasionale voedselsekerheid te beskerm en die veesektor te stabiliseer.”
Sy loof Steenhuisen se vroeë en proaktiewe besluit om groot volumes entstof van die Botswana Vaccine Institute te bekom, terwyl langtermyn- plaaslike vervaardigingskapasiteit weer opgebou word.
Gauteng bly een van die provinsies wat deur BKS geraak word, met uitbrekings wat in verskeie munisipaliteite aangeteken is, insluitend gemeenskapsweiding, voerkampe en bees- en suiwelplase.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri mvh

