Agriculture
Trekkerverkope styg steeds─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 16 Jan 2026
Kleinhandelverkope van trekkers styg steeds.
In dié vroeë stadium sal trekkerverkope na verwagting vanjaar tussen 5% en 10% meer wees as verlede jaar. Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma) voorspel stroperverkope sal waarskynlik soortgelyk wees as verlede jaar.
In Desember is 494 trekkers verkoop, 11% meer as in Desember 2024. Willie Human, Salma-voorsitter, sê: “Vir die 2025-kalenderjaar is trekkerverkope van 7 668 eenhede byna 19% meer as die 6 463 eenhede wat in 2024 verkoop is.”

Daar is optimisme oor die plantseisoen volgens kenners. Foto: Pexel
Sewe stropers is in Desember van die hand gesit, een meer as in Desember 2024. Die 207 eenhede vir die 2025-kalenderjaar is stroperverkope, is 3% meer as in 2024 verkoop is.
Weerstoestande is oor die algemeen gunstig en vooruitsigte vir somergewasse lyk goed. Die produksie van wintergewasse was ook goed.
Aanduiding van goeie seisoen
Wandile Sihlobo, Agbiz-hoofekonoom, sê Suid-Afrika se 2024/25-somergraan en -oliesade het jaar op jaar gestyg met 30%, wat op 20,08 miljoen t te staan kom. Dit sluit mielies, soja, sonneblom, sorghum en droëbone in.
Vrugte en groente beleef ook ’n goeie seisoen, en die voorspelling vir suikerproduksie vir die 2024/25-seisoen dui op ’n herstel van 2,09 miljoen t. Die druiweoes was 1,244 miljoen t, 11% meer as die vorige jaar.
Die verhoging in trekkerverkope dui op ’n goeie seisoen en is ’n sterk aanduider van optimisme oor die landbouseisoen, meen Sihlobo.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

