Agriculture
Peritum Agri Institute: nuwe hoofstuk vir toekomstige landboukundiges─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 20 Jan 2026
Peritum Agri Institute vier 25 jaar met ’n betekenisvolle nuwe fase in sy ontwikkeling.
Dié instelling, wat nou amptelik geregistreer is as ’n hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika, bied talle beroepsgerigte programme aan vir primêre landbou, landbouproduksie en die korporatiewe landbou-omgewing. Dis in 2012 as Peritum College deur die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) as ’n privaat landboukollege gestig.
Sedertdien het die kollege aansienlik gegroei van ’n eerste inname van slegs twaalf studente to meer as 250 ingeskrewe studente oor twee jaargroepe in 2026, 125 meer eerstejaarstudente as verlede jaar.
“Die landboustrome wat ons aanbied, is basies praktykgerigte landbou; daar het ons ’n diploma in plantproduksie en ook diereproduksie,” sê Emmie Pietersen, direkteur. “Die tweede stroom is die afdeling wat die hoëronderwysdiploma aanbied vir studente wat verder wil studeer.
“Ons glo in 2030 sal studente tot op nagraadse vlak kan kwalifiseer. In die hoëronderwysafdeling bied ons die hoër sertifikaat in boerdery, gevolg deur ’n gevorderde sertifikaat in presisielandbou óf in bewaringslandbou.
“Ons bied ook programme in aan sekondêre landbou, soos in landboubesighede naamlik die Beroepsertifikaat in graansilobestuur en ook vir handelstakbestuurders.”

Peritum Agri Institute bied talle beroepsgerigte programme aan in landbou. Foto: peritumagri.com
Naskoolse onderrig in Suid-Afrika word regtens gereguleer deur die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepskwalifikasies en die Raad op Hoër Onderwys (RHO). Ná ’n intensiewe sesjarige proses voldoen Peritum volledig aan die vereistes vir funksionering binne die hoëronderwysraamwerk en is die instelling amptelik geregistreer as ’n hoëronderwysinstelling.
Benewens hierdie registrasie word vanjaar ook drie kwalifikasies bekendgestel wat deur die RHO geakkrediteer is.
Peritum, geleë in Langenhovenpark in Bloemfontein het ooreenkomste met omliggende gastehuise gesluit vir beter tariewe vir studente en bied ook ’n studentekaart met afslag by plaaslike eetplekke.

Die instelling is in 2012 as Peritum College deur die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) as ’n privaat landboukollege gestig. Foto: peritumagri.com
Die instelling geniet deurlopende ondersteuning in die landbousektor en samewerking met landboumaatskappye, wat hom in staat stel om te bly innoveer en leiding te neem in beroepsgerigte landbouonderrig.
“Ons is opgewonde oor die jong mense wat in landbou belangstel,” sê Pietersen. “Ons het elke jong mens nodig om landbou volhoubaar in die toekoms te bedryf.”
Peritum bly verbind tot sy missie om ’n toekomsbestande werksmag te lewer wat die landbousektor sal hervorm vir ’n volhoubare môre.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

