Agriculture
Bloemskou: Bees- en kleinveeskou afgelas weens bek-en-klou─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 22 Jan 2026
Die Bloemskou-bestuur het die “moeilike maar noodsaaklike” besluit geneem om die bees- en kleinveeskou, wat van 23 April tot 2 Mei gehou sou geword, af te gelas weens die toenemende bedreiging van bek-en-klouseer.
Die besluit is nie ligtelik geneem nie, sê Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof. Deur dié “verantwoordelike optrede” wys Bloemskou die waarde wat hy heg aan biosekerheid en volhoubare landboupraktyke.
Dit besluit is ook geneem ter wille van stoettelers, genootskappe en die breër landbousektor. Die byeenbring van gespletehoefdiere word tot verdere kennisgewing op die Bloemfontein-skouterrein beperk, sê Prinsloo.
Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike siekte, wat ernstige gevolge vir die veesektor inhou. Die siekte versprei maklik deur direkte kontak tussen diere, asook mense, voertuie en toerusting. Groot landbouskoue, waar vee van verskillende streke byeengebring word, hou ’n groot risiko in.
“Ons is vol vertroue al die rolspelers, insluitend telers, boere, genootskappe, die landbougemeenskap, diensverskaffers en lede van die publiek, sal begrip hê vir die situasie en die besluit ondersteun,” sê Prinsloo. “Dit is ná raadpleging met rolspelers op verskeie vlakke in die bedryf geneem.”
Dié besluit het ’n groot direkte en indirekte uitwerking op die plaaslike ekonomie. Dit herinner sterk aan besluite tydens die Covid-19-pandemie, maar is geneem weens die nasionale situasie en krisis as gevolg van bek-en-klouseer.
Die goeie nuus is dat al die ander afdelings van die gewilde tentoonstelling steeds voortgaan, wat ook die saalperdskou en ander perdekompetisies insluit. Die handelskou met uitstallers, vermaak, ’n pretpark en kosstalletjies se reëlings is goed op dreef en dit gaan met groot geesdrif aangebied word.

Dit gaan goed met besprekings vir die Bloemskou, wat weer beloof om ’n baie aangename ervaring te wees. Foto: Bloemskou
Hoewel die afwesigheid van sekere vee-uitstallings Bloemskou se tradisionele karakter sal beënvloed, bly dit ’n belangrike platform vir landbou-innovasie, opvoeding en gemeenskapsbetrokkenheid. Ander aktiwiteite, uitstallings en vermaak bly deel van die program.
“Dit gaan ongelooflik goed met ons besprekings,” sê Prinsloo. “Alles gaan volstoom voort. Ons kyk ook na alternatiewe aanbiedings in die plek van die bees- en skaapitems wat sou plaasgevind het. Ons gaan ’n baie lekker skou hê.”
Nog inligting is beskikbaar op Bloemskou se webtuiste.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

