Click on the warning image to view this post
Agriculture
Bek-en-klouseer: Gee boere onmiddellike toegang tot entstof, vra VL─── ISABEL VAN TONDER 09:43 Thu, 22 Jan 2026
Die staatsmonopolie op bek-en-klouseer moet dringend beëindig en entstof dadelik in boere se hande geplaas word, sê Vrystaat Landbou (VL).
Boere moet toegelaat word om so vinnig moontlik hulle diere in te ent om die onbeheerde verspreiding van bek-en-klouseer te stuit. “As dit nie gebeur nie, word die hele land se vleisbedryf op sy knieë gedwing,” sê Francois Wilken, president van VL.
Die organisasie beywer hom sedert 1904 vir die veilige en volhoubare voortbestaan van die landbousektor. VL meen die volgende werklikhede moet aanvaar word en daar moet dringend vorentoe beweeg word:
- Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde siekte. Daar is egter tans geen beheer oor die verspreiding daarvan nie.
- Protokolle en regulasies is geskryf vir ’n land wat bek-en-klouseervry is. Dié siekte is lankal uit die sogenaamde rooilyn-gebied weens die versuim om dit daar te hou.
- Die beweging van diere kan nie gestop word nie. Die kultuur in Suid-Afrika maak dit onmoontlik.
- Biosekerheid en die klem daarop het geen verskil gemaak om die verspreiding van die virus te keer nie.

Boere moet toegelaat word om so vinnig moontlik hulle diere in te ent om die onbeheerde verspreiding van bek-en-klouseer te stuit, sê Francois Wilken, president van VL. Foto verskaf
Friedl von Maltitz, VL-adjunk-president, waarsku boerderye kan nie langer tot stilstand gedwing word nie. “Ons moet dadelik begin inent. Die veebedryf se ekonomiese volhoubaarheid en voortbestaan is onder beleg,” sê hy.
“Ons veeboere kan nie vir ’n tienjaarplan wag nie! Dit is nou oorlog teen die virus en ons kan nie van die staat alleen afhanklik wees nie. Die staat se hantering van die siekte is aanduidend van hulle tekortkominge wat kapasiteit betref.”
In die verslag van 18 Mei 2022 van Thoko Didiza, oudminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, word verskeie mislukkings van die taakspan uitgelig.

Daar kan nie langer gewag word vir planne teen bek-en-klouseer nie, daar moet nou opgetree word, waarsku Vrystaat Landbou. Foto: Gisborne Vets
Die taakspan het misluk in die ondersoek na die verandering in die epidemiologiese evolusie van siekte-uitdagings, die land se vermoë om siektes betyds te diagnoseer en die land se gereedheid om remediërende biosekerheidsmaatreëls in te stel.
VL dring gevolglik aan op die beskikbaarstelling van entstowwe deur privaat instansies en dat die entstof onmiddellik beskikbaar gestel word aan boere om aan te koop.
VL vra ook dat daar dringend in belang van die boere opgetree word om die krisis te beëindig. “Tyd vir praat is lankal verby. Boere het nie meer weke of maande om te wag nie, slegs ure! Daar moet dadelik opgetree word,” sê Wilken.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

