Agriculture
Bek-en-klouseer-taakspan ‘besef taak terdeë’─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 27 Jan 2026
Die lede van die taakspan wat onlangs deur die landbouminister aangestel is om die stryd teen bek-en-klouseer te help rig, is dit eens dat dit ’n groot verantwoordelikheid is.
John Steenhuisen het ’n taakgroep bymekaargebring uit rolspelers wat landbou verstaan en sluit in wetenskaplikes, bedryfsorganisasies en lede van die veeartsenykundige bedryf. “Hierdie taakgroep met sy nege lede is daargestel om hoogstens aanbevelings te doen,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA en lid van die taakgroep.
“Hulle is daar vir een rede en dit is om die landbousektor se belange te bevorder. Die groep is gefokus, en (ons) streef daarna om ’n vinniger en meer positiewe uitkoms vir die sektor te bewerkstellig, en ’n verskil te maak”
Die uitbreking van die siekte het uitgebrei tot agt provinsies; nog net die Noord-Kaap spring dit vry.
Wanneer ’n organisasie aansoek doen om entstowwe in te voer, sê Van Zyl, kan dit tot twee en ’n half maande duur om goedkeuring daarvoor te verkry. “Dis onaanvaarbaar en daar moet vinniger by besluite en resultate uitgekom word.”
’n Artikel 10-aansoek is reeds ingedien vir die verkryging van entstowwe. Die maatreëls sal soortgelyk wees aan dié tydens die uitbreking van brusellose toe die privaat sektor ook betrokke was en nie net staatsveeartse nie.
“Ons kan nie meer tyd mors nie,” maan Van Zyl. “As daar vandag ’n aansoek is, moet dit môreoggend geteken uitgaan. Entstowwe word vanaf die eerste en tweede week van Februarie in Suid-Afrika verwag, maar die magtiging vir die invoer daarvan was ’n dilemma.
“Daar is heelwat permitte nodig, en dit is ’n uitdaging. Ons kan nie voete sleep nie.” Die Landbounavorsingsraad het onlangs eers stamme van die siekte na die Pirbright-instituut in Brittanje gestuur om die regte entstof te bekom.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA en een van die lede van die bek-en-klouseer-taakspan. Foto: TLU SA
Die virus het muteer en dit is lewensnoodsaaklik om nou die regte entstof vir die regte stam van die virus te bekom. “Wanneer voete gesleep word, betaal die boer en verbruiker die prys,” sê Van Zyl.
Oorgrensvee is ’n wesenlike en ernstige probleem, voeg hy by. Vee word onwettig oor die grense ingebring of uitgeneem en Suid-Afrika het nie die vermoë om die probleem na behore te bekamp nie.
Die regering moet die saak blitsvinnig regstel. Kapasiteit moet geskep word om dié diere dadelik te skut. Sterk riglyne is nou nodig, meen Van Zyl.
Op die volgende kabinetsitting moet aansoek gedoen word om ’n ramptoestand te verklaar. Presiese regulasies daaroor sal bepaal word.

Dit is nou lewensbelangrik om die regte entstof vir die jongste mutasie van die bek-en-klou-virus te bekom. Foto: Pexel
“Staatsveeartse sukkel met uitdagings soos brandstof en vervoer, en het dikwels nie die kapasiteit om al die boere te besoek nie,” sê Van Zyl.
“Wildboere het ’n groot rol te speel in hierdie siekte en daar is reeds gevra dat wildboere ook verteenwoordig moet word in die taakgroep. Buffels is draers van die virus, maar word nie self siek daarvan nie.
“Elke landbouer se energie moet nou gefokus word op konstruktiewe insette. Die toekoms van landbou is nou in die gedrang, so ook voedselsekerheid.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

