On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou-organisasies eis onmiddellike staatsoptrede teen bek-en-klouseer

───   ISABEL VAN TONDER 13:19 Tue, 27 Jan 2026

Landbou-organisasies eis onmiddellike staatsoptrede teen bek-en-klouseer | News Article
Saai se mandaat is om familieboere, voedselproduksie en landelike ekonomieë te beskerm. Foto: Pexel

Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) rig saam met Vrystaat Landbou en Sakeliga ’n formele regsaanmaning aan die minister van landbou oor bek-en-klouseer.

Die staat word beskuldig van voortgesette versuim om werkbaar, regmatig en doeltreffend op die toenemende bek-en-klouseer-krisis te reageer. Die landbousektor is al maande lank formeel betrokke om die krisis die hoof te help bied. 

Skriftelike voorleggings en herhaalde waarskuwings aan die departement van landbou dat die huidige benadering boere in die steek laat, voedselsekerheid bedreig en ekonomiese skade dwarsdeur die vee- en suiwelwaardeketting versnel, het volgens die organisasies nie die gewenste uitwerking gehad nie.

“Ten spyte van duidelike wetlike verpligtinge wat ingevolge bestaande wetgewing op die staat rus, bly die operasionele reaksie op bek-en-klouseer gefragmenteer, stadig en struktureel onvoldoende om die omvang en tempo van die uitbreking te hanteer,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die bek-en-klouseer-krisis kan nie meer slegs met voornemens of beplanning beheer word nie, sê Saai. Foto: Pexel

“Saai se besluit is nie ideologies, politiek of opportunisties van aard nie. Dit is die direkte gevolg van langdurige enstoftekorte, veroorsaak deur die staat, die enkelkoper-verskaffermodel, onsekerheid rondom voorsiening, regulatoriese verlamming rakende permitte en magtigings, teenstrydige boodskappe aan boere, en die groeiende afstand tussen openbare aankondigings en praktiese implementering op plase.”

Saai het deurgaans gewaarsku die krisis kan nie meer deur blote voornemens of beplanning beheer word nie, maar slegs deur daadwerklike uitvoering en kapasiteit. Daardie kapasiteit bestaan reeds vandag in Suid-Afrika binne die uitgebreide netwerk van private dieregesondheidsverskaffers, logistieke netwerke en koueketting-infrastruktuur, sê Rossouw.

Saai het op 16 Januarie formeel ’n omvattende voorstel aan John Steenhuisen, minister van landbou, voorgelê waarin spesifieke, wettige en onmiddellik implementeerbare maatreëls uiteengesit is om entstofkapasiteit uit te brei. Dit sluit in entstofverkryging en -toediening en versnelde permitprosesse. Geen van dié maatreëls is nog geïmplementeer nie.

Kommer oor vertragings

Saai se mandaat is om familieboere, voedselproduksie en landelike ekonomieë te beskerm, sê Rossouw. Hulle is diep bekommerd dat voortgesette vertragings reeds wetsgehoorsame boere tot bankrotskap dryf. Dit moedig informele en onwettige praktyke aan, ondermyn vertroue in siektebeheerstelsels, en skep die gevaar van ’n ineenstorting, benewens die dieregesondheidskrisis.

Saai vereis beslissende optrede van die staat. “Ons enigste doel is om te verseker rasionele en doeltreffende regulering van bek-en-klouseer word toegepas, met oplossings wat gefokus bly op die beskerming van die bestaansmiddele van familieboere.”

Hy sê hulle is steeds ontvanklik vir dringende gesprekvoering met die staat, wat in goeie trou moet geskied. Daadwerklike optrede is nou noodsaaklik.

 Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.