On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Gesamentlike landbouprojek vier eerste oes vanjaar

───   ISABEL VAN TONDER 11:56 Wed, 28 Jan 2026

Gesamentlike landbouprojek vier eerste oes vanjaar | News Article
Lebo Mosime van Thabake Business Enterprise by produkte van ’n geslaagde eerste oes. Foto: Saai

Die gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek van AfriForum, Saai en Thabake Enterprise het die jaar op ’n hoë noot begin.

Die eerste oes van die seisoen was 200 kg groenboontjies. Dié projek word sedert 2022 naby Phokeng in Noordwes bedryf. Sedert die projekspan die eerste plantsiklus net meer as twee jaar gelede begin het, is meer as 60 t groente op die driekwart hektaar grond geoes.

AfriForum en Saai is by die projek betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative MSW.

Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai. Foto: Linkedin

Die jongste oes volg kort op die hakke van die nagenoeg 800 kg murgpampoentjies wat verlede maand hier geoes en gelewer is aan Pretoria en Johannesburg se varsproduktemark en die varsproduktehandelaar Freshlinq. 

Die deurlopende toegang tot formele varsproduktemarkte bevestig die volhoubare groei en kommersiële vordering wat reeds in die projek gemaak is, sê Leon Lourens, onwikkelingskoördineerder van Saai.

Die projek het ontstaan nadat Lebo Mosime, stigter en uitvoerende hoof van Thabake Bussiness Enterprise, Afriforum genader het met die visie om haar kleinskaalse groenteboerdery uit te brei tot ’n ekonomies lewensvatbare landbou-onderneming.

Die deurlopende toegang tot formele varsproduktemarkte bevestig die volhoubare groei en kommersiële vordering wat reeds in die projek gemaak is. Foto: Saai

Sedertdien het die vennootskap jaarliks gegroei en word dit nou gekenmerk deur opeenvolgende plantsiklusse, verbeterde bestuurspraktyke en toenemende opbrengste.

“Die feit dat ons nou elke plantsiklus kan plant, oes en aan verskillende markte kan lewer, wys hoe ver ons gevorder het,” vertel Mosime. “Elke seisoen bring natuurlik nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede om te leer, te verbeter en volhoubaar te groei.

“My doel bly om ’n nalatenskap te bou wat nie net my gesien nie, maar om ook die breër gemeenskap te bevoordeel waarin ek beweeg.”

Lebo Mosime, Nantes Kelder en Leon Lourens by die eerste jaar se oes. Foto: Saai

Saai se betrokkenheid by die projek is om deurlopend ondersteuning te bied op bestuurs-, beplannings- en produksievlak, terwyl kundigheid oor variëteitskeuse, plaag- en onkruidbeheer deurlopend ingespan word om produksie te verhoog.

“Hierdie projek is ’n bewys van wat moontlik is wanneer daar oor tyd belê word in mense, vaardighede en volhoubare praktyke. Die fokus is nie net op oesopbrengs nie, maar op die ontwikkeling van ’n selfstandige, winsgewende landbou-onderneming,” sê Lourens.

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum. Foto: Linkedin

“Mosime se deursettingsvermoë is ’n voorbeeld vir vroue wat hul plek in die landboubedryf wil vind én volstaan.”

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê gesamentlike landbouprojekte soos dié bly ’n kernbousteen van AfriForum se strewe na die versterking van ’n netwerk van kultuurgemeenskappe. 

Verdere plantsiklusse vir die jaar word reeds beplan as deel van voortgesette fokus op pad na kommersialisering.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.