On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer sny diep in beesvleiswins

───   ISABEL VAN TONDER 11:18 Fri, 30 Jan 2026

Bek-en-klouseer sny diep in beesvleiswins | News Article
Bek-en-klouseer ontaard in ’n volskaalse nasionale krisis met ernstige ekonomiese gevolge. Foto: Pexel

Bek-en-klouseer ontaard in ’n volskaalse nasionale krisis met ernstige gevolge, wat uitkring na veral landbouhandel, plattelandse werkgeleenthede en voedselsekerheid.

Vrystaat Landbou (VL) waarsku die voortdurende mislukking om uitbrekings te beperk en tydige toegang tot entstowwe te verseker ondermyn die land se geloofwaardigheid as handelsvennoot en stel duisende boerderybedrywighede in gevaar.

Met verwysing na ’n onlangse verslag deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) sê Friedl von Maltitz, visepresident van VL en self ’n beesboer, Suid-Afrika het sy bek-en-klouseer-vrye status in 2019 verloor. Van toe af het die situasie drasties versleg.

Luidens die verslag het aangemelde gevalle in agt provinsies verlede jaar tot meer as 24 000 toegeneem, die hoogste getal op rekord.

Sere op die hoewe van diere dui op simptome van bek-en-klouseer. Foto: Louis Trichardt SPCA

Die ekonomiese gevolge van bek-en-klouseer is diepgaande, waarsku Von Maltitz. Volgens BFAP-beramings kan voortgesette uitbrekings tot R25,6 miljard in verlore bruto produksiewaarde oor die volgende dekade lei as daar nie beslissend ingegryp word nie.

In ’n hoëlas-scenario word verliese van R11,3 miljard tussen 2025 en 2030 reeds geprojekteer, wat gevolge insluit vir werksgeleenthede en die plattelandse ekonomie.

Handel loop veral kwaai deur. Herhalende bek-en-klouseer-uitbrekings het gelei tot die sluiting of beperking van belangrike uitvoermarkte. Dit kelder jare lange vordering deur die rooivleisbedryf. Van 2019 tot verlede jaar het Suid-Afrika meer as R821 miljoen in beesvleis-uitvoerinkomste ingeboet. Dit kan teen einde vanjaar toeneem tot R2,6 miljard, as die huidige tendens voortduur.

Die suiwelsektor word ekonomies verwoes deur bek-en-klouseer. Foto: Pexel

In net een jaar het beesvleis-uitvoervolumes met meer as 13 000 t gedaal, wat lei tot ’n afname van R371 miljoen in uitvoerwaarde tussen 2024 en 2025.

Die suiwelsektor ervaar soortgelyke verwoesting. Ekonomiese verliese weens bek-en-klouseer het reeds R1 miljard oorskry. Dit behels meer as 90 geraakte plase en meer as 210 000 diere sedert verlede jaar.

Weens dié toedrag van sake doen VL, saam met Sakeliga en Saai, regstappe om “betekenisvolle en beslissende optrede” af te dwing en die verspreiding van bek-en-klouseer te stop, Suid-Afrika se handelsbetrekkinge te beskerm en nog ekonomiese vernietiging te voorkom, sê Francois Wilken, president van VL.

“Hierdie verliese bedreig die voortbestaan van familieplase en landelike gemeenskappe deur duisende werkverliese,” voeg Von Maltitz by.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.