On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Begin klein: Raad vir groentetuin vol hoop en kos

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 03 Feb 2026

Begin klein: Raad vir groentetuin vol hoop en kos | News Article
Thabo Olivier glo in gesonde en sterk saailinge om ’n groenteboerdery aan die gang te kry. Foto: Thabo Olivier

Die kweek van groente is nie net ’n stokperdjie nie, maar ’n praktiese manier om voedselsekerheid te verbeter, geld te bespaar en selfs ’n ekstra inkomste te verdien.

Hetsy in ’n tuintjie op jou erf of balkon of op ’n groter kommersiële stuk grond, groenteboerdery bied geleenthede vir gesinne én produsente om meer selfversorgend te leef.

Soms begin ’n pad met die kweek van groente heel toevallig. “Ek was besig met ontwikkeling in ’n plakkerskamp en het vir die inwoners gesê hulle moet groente kweek,” vertel Thabo Olivier, entrepreneur en fasiliteerder van lesings oor voedselsekerheid.

“Hulle het gesê hulle weet nie hoe nie. Net daar het ek begin navorsing doen, spesifiek oor die gebruik van afvalmateriaal en hoe om daarmee ’n groentetuin te begin. Dit was reeds in 2010.”


Die beste groente om mee te begin, meen hy, is snybeet (“giant Swiss chard”). Dis ’n maklike kweekgroente; daar kan daagliks van geoes word en dit hou jou kontantvloei aan die gang. Wintergroente word in die herfs geplant. Ertjies, boerbone, kool en wortels is goeie opsies.

“As jy kommersieel wil boer, is grondontleding noodsaaklik. Grond is die heel belangrikste: Indien dit nie reg is nie, gaan niks werk nie.

“Jy het geen kwalifikasies nodig om ’n suksesvolle groenteboer te wees nie; jy het baie passie en bekwaamheid nodig. Niemand in die wêreld kan jou keer nie, jy het nou ’n gawe om voedsel te verbou en daarmee sal jy altyd ’n toekoms hê,” meen Olivier.

Thabo Olivier bied gereeld lesings aan oor voedselsekerheid. Foto: Thabo Olivier

Kleigrond kan verbeter word met landboukalk en sanderige grond met organiese materiaal wat bygevoeg word. Rooi grond is nie altyd die beste nie, omdat dit versteen wanneer dit droog word. Plante moet beweeg. Deur organiese kompos in te werk, word grond meer vrugbaar gemaak.

Die belangrikste boodskap wat hy altyd oordra, sê Olivier, is klein begin, groot gewin. Daar kan elke seisoen verdubbel word, namate jou kliëntebasis vergroot of behoeftes in jou gesin vermeerder.

“Wanneer groente op klein skaal verbou word, is saailinge die beste. Kies die sterkste saailinge by enige kwekery voordat jy begin. Wanneer jy op kommersiële vlak begin met ’n groenteboerdery, is saadplanting die beste en goedkoopste.”

‘ ’n Klein begin is altyd ’n goeie begin’

Organiese groente is die beste, maar dit is moeilik om kommersieel net organies te boer, maan hy. 

Plaagbeheer loop hand aan hand met die gebruik van chemikalieë. Goeie produkte is wel verkrygbaar wat nie skadelik is vir mense nie, sê Olivier.

“ ’n Klein begin is altyd ’n goeie begin, en dit is ’n bekwaamheid wat geslagte ná jou kan aanleer. Daardie liefde om kos te kweek, te oes en dan kos op die tafel te hê, kan met niks vergelyk word nie.”

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.