On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA verwerp instel van minimumloon ondanks waarskuwings

───   ISABEL VAN TONDER 12:48 Wed, 04 Feb 2026

TLU SA verwerp instel van minimumloon ondanks waarskuwings | News Article
TLU SA verwerp die nuwe nasionale mimumloon wat afgedwing word ondanks waarskuwings. Foto: Pexel

TLU SA betreur die aankondiging dat die nasionale mimumloon vanaf 1 Maart tot R30,23 verhoog word.

Die organisasie sê die landboubedryf verkeer reeds onder “geweldige druk”. Die besluit is geneem ten spyte van wesenlike, opbouende insette deur georganiseerde landbou, sakelui en vakbonde wat duidelik gewaarsku het teen die “uiters brose toestand” van die ekonomie.

Siekte-uitbrekings soos bek-en-klouseer en Afrikavarkpes plaas verdere druk op produsente, lei tot produksieverliese en dra reeds by tot werksverliese op die platteland, sê Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder.

In hierdie konteks is dit onverantwoordelik om koste verder administratief op te stoot sonder enige realistiese beoordeling van die impak op werkskepping en volhoubaarheid, meen hy.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is bekommerd oor die nuwe minimumloon. Foto: TLU SA

Dit is veral kommerwekkend dat selfs vakbonde in die onderhandelingsproses aangedui het daar moet met groot verantwoordelikheid omgegaan word met die realiteit van die huidige ekonomiese klimaat, voeg Van Zyl by.

Ondanks hierdie waarskuwings het die departement van indiensneming en arbeid steeds ’n styging afgedwing. Teen hierdie agtergrond is dit “uiters onbillik” dat die staat hom die reg toeëien om die privaat sektor te dwing tot loonvlakke wat die staat self nie wil of kan betaal nie, sê Van Zyl.

Die feit dat werkers in staatsprogramme teen byna die helfte van die minimumloon vergoed word, beklemtoon die “totale teenstrydigheid”.

TLU SA meen steeds dit is beter om die ongeveer 34% werklose Suid-Afrikaners toegang tot werk te gee teen ’n laer, realistiese loon, as om hulle heeltemal uit die arbeidsmark te hou.

Dit is beter om werklose mense toegang te gee tot werk teen ’n laer loon as dat hulle geen loon ontvang nie, sê TLU SA. Foto: Pexel

“Werk skep waardigheid, ervaring, vaardighede en die geleentheid vir ontwikkeling,” sê Van Zyl. “Mense wat afhanklik is van ’n maatskaplike toelae, is nie ’n volhoubare oplossing nie en bou geen toekoms nie.”

TLU SA sê dit is ’n kwade dag wanneer probeer word om om ekonomiese groei deur administratiewe afdwinging te bewerkstellig.

“Die tragiese gevolg hiervan is dat werskgeleenthede weer in die slag kan bly, iets wat Suid-Afrika nou minder as ooit kan bekostig,” sê Van Zyl. “Die vraag kan ook gevra word hoe die minimumloon op die informele sektor van toepassing gaan wees, en op watter wyse dit in daardie sektor gemonitor en afgedwing sal word.”

TLU SA beskou hierdie aankondiging as “onverantwoordelik en kortsigtig”, veral in die lig van die vele opbouende bydraes wat verontagsaam is.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.