Agriculture
Protes teen hidrobreking se uurglas loop leeg, waarsku AfriForum─── ISABEL VAN TONDER 10:35 Sat, 07 Feb 2026
AfriForum waarsku indien die regering die groen lig vir hidrobreking gee, gemeenskappe die prys daarvoor gaan betaal.
Die burgerregteorganisasie moedig daarom die publiek aan om die opheffing van ’n moratorium op hidrobreking te beveg. Hidrobreking hou ’n ernstige gevaar in vir skaars waterbronne.
“Besluite wat nou geneem word, sal bepaal of Suid-Afrika sy skaars waterbronne beskerm of dit aan permanente skade blootstel,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.

Suid-Afrika is ’n waterskaars land wat ooreenstem met woestyngebiede. Foto: Pexel
Die reaksie volg op die voorgestelde regulasies wat die departement van bosbou, visserye en die omgewing in November verlede jaar gepubliseer het. Indien die konsepregulasies aanvaar word, sal dit die moratorium – oorspronklik in 2011 ingestel ná openbare druk – finaal tot niet maak.
Die publiek het tot 13 Februarie kans om kommentaar op die regulasies in te dien en hidrobreking te verhoed.
AfriForum waarsku dat hidrobreking, ’n metode waardeur aardgas ontgin word, ’n onaanvaarbare risiko inhou vir ’n land wat reeds uiters waterskaars is en boonop tans volgens die World Resources Institute (WRI) se wêreldranglys van waterstres in die 22ste plek geplaas word.

Foto: btlliners.com
Die ranglys dui aan in watter mate die land waterskaarste en druk op waterhulpbrone ondervind. Suid-Afrika se waterstres stem byna ooreen met Namibië (in die 21 ste plek) en Irak (23 ste plek) – albei woestyn-, of halfwoestynagtige gebiede.
Hidrobreking is ’n proses waardeur chemiese vleoistowwe teen geweldige hoë druk in skalierotslae ingepomp word om die rots te breek en sodoende metaangas wat daarin vervat is, vry te stel en te onttrek. Die proses vereis geweldige hoeveelhede water.
Besoedeling van waterbronne rig dikwels onomkeerbare skade aan, wat gemeenskappe, landbou en die omgewing direk beïnvloed.
Onrealistiese veronderstelling
Volgens AfriForum maak die regering oordrewe beloftes en voer aan dat hidrobreking tot noemenswaardige ekonomiese groei en werkskepping sal lei. AfriForum verklaar ook dat die veronderstelling onrealisties blyk te wees dat die regering die vermoë het om veilige en verantwoordelike hidrobreking te verseker.
AfriForum doen ’n beroep op die publiek om standpunt in te neem teen hidrobreking. Die publiek kan AfriForum se petisie teen hidrobreking onderteken of voor 13 Februarie skriftelik kommentaar rig per e-pos aan smoganetsi@dffe.gov.za.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

