Agriculture
Bek-en-klouseer nou vermoedelik ook in Noord-Kaap─── ISABEL VAN TONDER 14:46 Mon, 09 Feb 2026
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het kennis ontvang van ’n vermoedelike bek-en-klouseer-geval in die distrik Kuruman.
’n Dieregesondheidtegnikus het die betrokke plaas Saterdag (7/2) besoek. Monsters is na Kimberley geneem vir onmiddellike toetsing, waar die uitslag so gou moontlik bekendgemaak word, sê die RPO in die Noord-Kaap.
Die polisie is in kennis gestel en het kontak gemaak met die staatsveearts. Die departement van veeartsenydienste sal saam met die polisie op die kwarantynperseel teenwoordig wees, waar stappe gedoen word om bewegingsbeheer en biosekerheid in die omgewing op te skerp.

Asems word opgehou in afwagting van uitslae oor ’n moontlike geval van BKS in die Noord-Kaap. Foto: Pexel
Die LUR vir landbou sou Maandag (9/2) met die RPO in die Noord-Kaap en ander landbouorganisasies beraadslaag. Intussen is die provinsiale RPO deurentyd in aanraking met veeartsenydienste.
Omdat bek-en-klouseer ’n staatsbeheerde siekte is, is dit die staatsveearts se verantwoordelikheid om dit te beheer en bestuur met alle voorgeskrewe protokolle, waaronder die beperking van onnodige dierebeweging en die toepassing van biosekerheid op plase.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

