Click on the warning image to view this post
Agriculture
TLU-SA glo nie beloftes van SONA─── ISABEL VAN TONDER 11:34 Fri, 13 Feb 2026
TLU SA is bekommerd dat die president in sy staatsrede nie genoegsame aandag geskenk het aan Suid-Afrika se grootste uitdagings nie.
Volgens TLU SA het Cyril Ramaphosa se toespraak Donderdagaand (12/2) nie die nodige duidelikheid, strukturele hervorming en operasionele sekerheid gebied wat die landboubedryf dringend nodig het nie. Landbou is ’n strategiese sektor wat voedselsekerheid, landelike werkskepping, uitvoermarkte en ekonomiese stabiliteit direk beïnvloed.
Beleidsuitsprake wat nie gepaardgaan met duidelike implementeringsplanne, begrotingsprioritisering en meetbare verantwoordbaarheid nie, skep verdere onsekerheid in ’n sektor wat reeds onder enorme druk is, maan Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Bek-en-klouseer is tydens die staatsrede tot ’n nasionale ramp verklaar. Foto: Pexel
Die president het weer na ekonomiese groei en ontwikkeling verwys, maar het nie sy stem dik gemaak oor kernbeperkings in staatskapasiteit en administratiewe doeltreffendheid nie.
Bek-en-klouseer is tydens die staatsrede tot ’n nasionale ramp verklaar. “Nietemin is dit ons standpunt dat ’n rampverklaring op sigself nie die onderliggende bestuurs – en kapasiteitsuitdagings aanspreek nie.
“Sonder ’n geïntegreerde benadering waarin bestaande kundigheid, operasionele vermoë en samewerking met die sektor doelgerig benut word, bly die risiko groot dat die maatreëls onvoldoende sal wees om die siekte doeltreffend en volhoubaar te beheer,” sê Van Zyl.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder: TLU SA. Foto: Kragdag.co.za
Grensbeheer, biosekerheid, landelike veiligheid, energie-onsekerheid en infrastruktuurverval bly kritieke risikofaktore wat nie met dringende, praktiese oplossings die hoof gebied gaan word nie.
Erkenning van die verval in plaaslike regering en waterinfrastruktuur alleen verander niks, sê Van Zyl. ’n Staat wat oor drie dekades sy institusionele kapasiteit laat afbreek het, kan dit nie met ’n staatsrede herstel nie.
Die president het ook verwys na staatskaping en korrupsie as uitdagings wat oorkom moet word. Van Zyl sê hierdie verskynsels ontstaan nie in ’n vakuum nie is; dis ’n regstreekse gevolg van politieke ontplooiing en ’n beleid wat kundigheid opsy geskuif het.
Hoop sonder uitvoering
“Sonder verantwoordelikheid en sonder mense wat die ekonomie verstaan, sal geen aankondiging hierdie land red nie,” sê Van Zyl. TLU SA staan by sy standpunt: Suid-Afrika het nie nóg aankondigings en beloftes nodig nie.
Die land het bekwame bestuur, beleidsrasionaliteit en die volle benutting van bestaande kundigheid nodig. Daarsonder bly die staatsrede ’n jaarlikse herhaling van hoop sonder uitvoering.
Volgens TLU SA bly hierdie staatrede net nog ’n lys voornemens in ’n land wat reeds te lank wag vir werklike verandering. Die vraag bly egter: Wie gaan hierdie beloftes uitvoer en wie gaan die uitvoerders aanspreeklik hou?
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

