Agriculture
TLU SA wil produsente beskerm in BKS-raad─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 18 Feb 2026
Die belangrikste doel van TLU SA in die bedryfskoördineringsraad vir bek-en-klouseer is om die belange van produsente te beskerm.
TLU SA waak ook oor besluite wat verantwoordelik geneem moet word en doeltreffend uitgevoer word. “Deelname beteken nie noodwending instemming met elke besluit of benadering nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder.
“Dit beteken dat ons daar is waar die sektor se behoeftes in aanbevelings vervat kan word. Ons primêre verantwoordelikheid bly om boere te beskerm en om elke geleentheid te benut om praktiese oplossings na te jaag.”

Die vinnige verkryging van entstowwe is prioriteit. Foto: Pexel
John Steenhuisen, minister van landbou, het die raad op 26 Januarie saamgestel uit nege belanghebbendes. Dit tree op binne ’n driehoek van die tegniese taakgroep (veeartse), die bedryfskoördineringsraad (landbousektorverteenwoordiging) en die departement, met ’n mandaat vir skakeling en insette.
Reeds op die eerste vergadering het TLU SA voorgestel die raad moet wyer saamgestel word om die volledige kompleksiteit van die bedryf te weerspieël, waaronder sektore soos die wildbedryf.
Kern van uitkoms
Intussen hou die organisasie vol die kern van die uitkoms moet wees dat diere so gou moontlik ingeënt word. “Die koördineringskomitee se insette tot dusver het altyd op die uitkoms gefokus en is deurgaans gerig op die belange van die landbousektor,” sê Van Zyl.
Dus moet die invoer, verspreiding en toediening van entstowwe vaartbelyn en spoedeisend geskied, steeds binne die wetlike raamwerk sodat gehalte, veiligheid en biosekerheid gehandhaaf word.
Die huidige raamwerk is egter nie op spoed ingestel nie, sê Van Zyl. Verskeie uitdagings is boonop buite sy beheer. Goedkeuringsprosesse, invoerpermitte en administratiewe vereistes is onderworpe aan staatsbeheer, wat lei tot onnodige rompslomp en vertragings.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder vanTLU SA. Foto verskaf
TLU SA meen steeds Suid-Afrika kan leer by die model wat in Brasilië toegepas is. In dié Suid-Amerikaanse land konsentreer die staat op regulering en gehaltebeheer, terwyl vervaardiging, verkryging en toediening van entstowwe die private sektor se verantwoordelikheid is.
“Wanneer beheer belangriker word as uitvoering, betaal boere die prys. Elke uur se vertraging raak voedselsekerheid, ekonomiese stabiliteit en die gesondheid van veekuddes.”
TLU SA dring deurentyd aan op behoorlike verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe onder streng biosekerheid en naspeurbaarheid, met deursigtige verslagdoening en verantwoordelike toesig, sodat diere so gou moontlik ingeënt word.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

