Agriculture
Wiesenhof en Saai staan saam om boere te help─── ISABEL VAN TONDER 09:06 Sat, 21 Feb 2026
Die bek-en-klouseer-krisis versprei soos ’n veldbrand deur Suid-Afrika.
Wiesenhof Coffee Roastery het hande gevat met Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) om by te dra tot Saai se rampfonds wat familieboere ondersteun wat deur bek-en-klouseer verwoes is.
Waar regeringsprosesse sloer en onsekerheid markte lam lê, beweeg sakeondernemings nou daadwerklik om boere te help oorleef.
Vier jaar gelede het Wiesenhof reeds ’n persentasie van sy wins op elke koppie koffie, en verskeie items by Wiesenhof en Dulce restaurante beskikbaar gestel om plaasveiligheid en tegnologiese modernisering te bevorder.
“Wanneer jy ’n koppie koffie by ons geniet, staan jy saam met ons boere. Saam bou ons ’n sterker landboubedryf en beskerm ons voedselsekerheid vir die toekoms,” sê Kobus Wiese, eienaar van Wiesenhof.

Kobus Wiese, eienaar van Wiesenhof, en dr.Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. Foto: Saai
“Familieboerdery is die ruggraat van voedselsekerheid. Wanneer hulle val, val gemeenskappe saam. Hierdie vennootskap bewys die private sektor is om verantwoordelikheid te neem wanneer strukture faal,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.
Die nuwe fonds is nie bloot simbolies nie, dit is ’n praktiese reddingsboei vir produsente wat sukkel om kuddes te beskerm, bewegingspermitte te bekom, markte te behou en kontantvloei te oorleef.
“Landbou is die hart van ons land. Met elke koppie koffie kies ons om daardie hart sterker te laat klop,” sê Wiese.
Koppie koffie
Onlangs het Wiesenhof ’n tjek aan Saai oorhandig by die Wiesenhof in Franschhoek, ‘n sigbare bewys dat elke koppie koffie nou deel word van ’n groter stryd om Suid-Afrika se familieplase te red.
Saai is baie dankbaar vir Wiesenhof se bydrae en hoop om meer sakeondernemings by die vennootskap te betrek.
Die bek-en-klouseer-krisis het baie familieboerderye op ‘n punt gebring waar hulle nie sonder hulp van buite gaan oorleef nie. Die boodskap is duidelik: As die staat nie betyds reageer nie, sal die gemeenskap en sakewêreld!
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

