Agriculture
BKS-uitbreking naby Lesotho-grens wek kommer─── ISABEL VAN TONDER 10:29 Thu, 26 Feb 2026
Vrystaat Landbou (VL) spreek sy ernstige kommer uit oor die uitbreking van bek-en-klouseer die afgelope naweek in Lesotho.
Die uitbreking het na bewering voorgekom onder ’n kudde van 17 beeste in ’n gebied aangrensend tot die Nasionale Golden Gate Hoogland-park, sowat 15 km buite Clarens. Sewe beeste is positief getoets. Volgens inligting tot VL se beskikking, is reeds met inentings begin.
Die omvang van die veldtog en die spesifieke virusstam is nog onbekend. “Teen die agtergrond van voortdurende oorgrensmisdaad, veral veediefstal deur sindikate wat reeds dekades lank daagliks en weekliks langs die Lesotho-grens plaasvind, verhoog hierdie uitbreking die risiko vir grensboere aansienlik,” sê dr. Jane Buys, VL-veiligheidsrisiko-analis.
Rondloperdiere
Die groot aantal rondloperdiere uit Lesotho in padreserwes en dorpsgebiede van 13 grensdorpe maak die gevaar van verdere verspreiding selfs groter, sê sy.
’n Groot tekortkoming is die enkele werkende skut aan die Vrystaatse kant van die grens wat werksaam is in die omgewing van Harrismith en Quaqua.

Daar is nie 'n werkende skut meer oor in die Vrystaat nie. Foto: Pexel
Skutte kan dalk op Ficksburg en Zastron open, maar dis nog onseker, sê Buys. “Die skut wat voorheen op Ladybrand bestaan het en waar diere van die weermag geskut is, is nie meer in werking nie.”
Plaaslike munisipaliteite versuim hul grondwetlike plig om skutte daar te stel, terwyl die departement van landbou en landelike ontwikkeling verantwoordelik behoort te wees vir kwarantynskutte om dieresiektes te bestry.
Die standaardprosedure vir die landboudepartement, weermag, polisie en boere wanneer vee op plase uit Lesotho in Suid-Afrika gevind word, is ook geruime tyd nog nie afgehandel nie. Dit kniehalter pogings om die verspreiding van dieresiektes te keer.

Daar is wesenlike tekortkominge in grensbeheer. Foto: Nadis
Op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak bestaan wesenlike tekortkominge in grensbeheer, maar oor dekades heen is geen noemenswaardige verbetering aangebring nie.
VL vra alle owerhede moet oorgrensmisdaad en verwante voorvalle as ’n prioriteit hanteer. Die veiligheid van veekuddes en die voortbestaan van grensboere is in gedrang en ook ’n prioriteit, maan Buys.
“Boere word intussen versoek om beweging na en van hul plase streng te monitor en enige verdagte of onwettige aktiwiteit onmiddellik by die (polisie of weermag) aan te meld en formeel bystand te versoek.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

