Agriculture
Agri-Expo soek grensverskuiwer in suiwelbedryf─── ISABEL VAN TONDER 10:35 Sat, 28 Feb 2026
Dis weer tyd vir die Agri-Ekspo Game Changer se suiweltoekenning.
Agri-Expo in vennootskap met Hollard doen ’n beroep op die suiwelbedryf om jong uitblinkers vir die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning te benoem. Dit vereer uitsonderlike talent wat reeds ’n tasbare verskil in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf maak.
Die ontvanger van die 2026-toekenning word op Donderdag, 23 April tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Nederburg in die Paarl aangekondig.
Die wenner ontvang ’n kontantprys van R50 000 geborg deur Hollard.
“Ons nooi rolspelers in die bedryf om persone jonger as 40 jaar te benoem wat reeds ‘n betekenisvolle en meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo.

Die Hollard Game Changer-toekenning belê in jong talent. Foto: Pexel
In 2025 het Pamella Dzindikwa (31) produksiehoof by Puglia Cheese in Somerset-Wes, die toekenning ontvang. Die eerste ontvanger was Clement October (34), hoofkaasmaker van Klein River Cheese in Stanford, wat in 2024 aangewys is.
“Albei se loopbane getuig van merkwaardige groei – van junior poste tot sleutelrolle waarin hulle gevestigde handelsname versterk en uitbrei deur uitnemende suiwelprodukte,” sê Milford.
Jong talent
André Wiese, hoof van landbou by Hollard, noem die sukses van vorige wenners bevestig hoe belangrik dit is om doelbewus in jong talent te belê.
Wanneer jong mense tot sleutelrolspelers in die suiwelwaardeketting ontwikkel, is dit nie net wonderlik vir hul individuele loopbaan nie, die sektor baat ook daarby.
“Die Hollard Game Changer-toekenning is ons bydrae om die volgende geslag kundigheid, innovasie en leierskap te erken en aan te moedig,” sê hy.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

