On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

VL en Saai daag staat se entstofbenadering uit

───   ISABEL VAN TONDER 12:45 Tue, 03 Mar 2026

VL en Saai daag staat se entstofbenadering uit | News Article
Vrystaat Landbou daag staat se entstofbenadering in hof Photo: Farmwell. Wales

Vrystaat Landbou bring ’n dringende aansoek in die hooggeregshof saam met die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) en Sakeliga.

Die aansoek is om tussentydse regshulp teen die minister van landbou, die department van landbou en die direkteur van dieregesondheid. Dit maak deel uit van ’n breër hersieningsproses waarin die wettigheid, rasionaliteit en grondwetlikheid bevraagteken word van sekere bek-en-klouseer-maatreëls, veral wat entstof betref.

“Die huidige situasie bedreig nie net individuele produsente se bestaansvermoë nie, maar ook voedselsekerheid, werksgeleenthede en landelike ekonomieë.” sê Francois Wilken, VL-president. “Die kern van (ons) standpunt is dat boere nie verhinder moet word om hul eie diere te beskerm waar hulle die vermoë het om dit wettig en verantwoordelik te doen nie.”

Terwyl die staat self kapasiteitsuitdagings erken en die siekte wyd versprei is, sê hy, is “dit onaanvaarbaar dat privaat inisiatief en hulpbronne effektief geblokkeer word”.

Bek-en-klouseer het 'n verwoestende gevolg op die ekonomie en die veeboere. Foto: Pexel

Die huidige benadering, wat die invoer en beskikbaarheid van entstof beperk en boere parallel met die staat laat optree, vererger die krisis en verhoog die risiko van nog verliese, sê hy.

’n Model waarin die staat, die privaat sektor en produsente gesamentlik optree, is noodsaaklik om die pandemie doeltreffend te bestuur volgens Vrystaat Landbou.

“Ons doen ’n beroep op die regering om ’n inklusiewe, wetenskaplik gefundeerde en prakties uitvoerbare strategie te volg wat alle beskikbare kapasiteit mobiliseer om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp,” sê Wilken.

VL sal die situasie steeds fyn dophou en sy lede ondersteun in die beskerming van hul diere en bedrywighede binne die wetlike raamwerk.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.