Agriculture
Ceres Fruit Growers ontvang gesogte prys─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 04 Mar 2026
Tru-Cape Fruit Marketing vier met trots Ceres Fruit Growers se gesogte eerbewys.
Die toekenning deur Brand Reputation through Compliance Global Standards (BRCGTS) erken uitmuntende toewyding aan voedselveiligheid. Dit vier ook gehaltebestuur en integriteit in die voorsieningsketting.
“Ceres Fruit Growers is geëerd om as BRCGTS-gesertifiseerde perseel van die jaar vir 2026 erken te word,” sê Francois Malan, besturende direkteur van Ceres Fruit Growers. “Die toekenning bevestig die wedersydse vertroue tussen ons en ons kliënte en aandeelhouers.”
Dis ’n beproefde resep vir sukses om hulself voortdurend uit te daag, te verbeter en as ’n span saam te werk, sê hy. “Dit weerspieël ook ons leuse, ‘leading the way’. ’n Verbintenis tot sterk voedselveiligheid en 'n gehaltekultuur is ’n wesenlike deel van ons DNS.”

Die voedsel-en-veiligheid-kwaliteitspan van Ceres Fruit Growers. Foto: Tru-Cape
Dit verteenwoordig meer as ’n bedryfstoekenning, meen hy; “dit is onafhanklike versekering dat die appels en pere wat deur kleinhandelaars op hul rakke geplaas en deur verbruikers gekoop word, aan die strengste wêreldwye voedselveiligheidstandaarde voldoen.”
BRCGTS-sertifisering word wêreldwyd as maatstaf vir produkveiligheid, regsvoldoening, egtheid en gehalte beskou. Om as gesertifiseerde perseel van die jaar aangewys te word, dui op volgehoue uitnemendheid in die handhawing van hierdie standaarde, die vestiging van ’n diepgewortelde voedselveiligheidskultuur en die benutting van sertifisering om bedrywighede te versterk.
Joe Hanekom, senior produksiebestuurder by Ceres Fruit Growers, beklemtoon die direkte voordeel vir kliënte. “Hierdie toekenning het besondere betekenis omdat dit gevolg het op ’n benoeming vanuit die bedryf.
“Oor die afgelope vyf jaar het ons agtereenvolgens AA-graderings in onaangekondigde jaarlikse oudits behaal, met minder as vyf afwykings elke keer. Daardie konsekwentheid toon nie net dat ons die regte stelsel in plek het nie, maar ook dat ons te alle tye doeltreffend funksioneer.”

Die leuse "Leading the way" bewys Ceres Fruit Growers se erns met gehalte. Foto: Ceres Fruit Growers
As wêreldwye bemarker van Ceres Fruit Growers se appels en pere beklemtoon Tru-Cape hoe belangrik die eerbwys is om verhoudings met kleinhandelaars te versterk en verbruikersvertroue in te boesem, voeg Hanekom by.
Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê: “Kleinhandelaars funksioneer in ’n omgewing waar naspeurbaarheid, voedselveiligheid en konsekwentheid nie onderhandelbaar is nie. Vir verbruikers beteken dit gemoedsrus, vir kleinhandelaars beteken dit verminderde risiko’s en ’n betroubare voorsieningsvenoot.”
Om as BRCGTS-gesertifiseerde perseel van die jaar 2026 aangewys te word, “dra ’n duidelike boodskap aan kleinhandelaars en verbruikers oor dat die appels en pere wat Tru-Cape van Ceres Fruit Growers kry, volgens wêreldklasstandaarde geproduseer en verpak word, dit boesem ook vertroue van boord tot bord in”.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
