Agriculture
Vrystaat Landbou bekommerd oor entstofbenadering─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 05 Mar 2026
Vrystaat Landbou (VL), Saai en Sakeliga bring ’n dringende aansoek in die hooggeregshof teen die minister van landbou, departement van landbou en die direkteur van dieregesondheid.
“Dit gaan basies daaroor dat ons voel die departement en die minister verhoed die gewone kommersiële boere om toegang te kry tot entstof, privaat te bekom en in te ent,” sê Francois Wilken, VL-president. Die organisasies eis landbouminister John Steenhuisen moet sê op watter wetgewing hy homself beroep om die beperkings in te stel.
Volgens Wilken is die huidige protokol en wetgewing al in 1984 geskryf vir ’n land wat bek-en-klouseer-vry was en dié siekte net “agter die rooi lyn” in die noordooste van Suid-Afrika voorgekom het. Die regulasies waaronder beheer nou toegepas word, geld nie in ’n land wat besmet is met bek-en-klouseer nie, meen hy.
“Onderstepoort het nie die kapasiteit om groot hoeveelhede entstof te vervaardig en te versprei nie. Die opmerking van die minister dat hofsake die verspreiding van entstowwe sal vertraag is nie korrek nie. Die regsgeding word as ’n aanval beskou, wat dit nie was nie.
“Ons vra geldige vrae, indien dit nie geantwoord word nie, word ons verplig om die hof te nader vir antwoorde. Vir ons is dit die belangrikste om die krisis op te los, entstowwe te versprei en inentings moet geskied. Vee-eienaars is verplig om sy vee te beskerm en te ent teen siektes.”
Wilken voeg by hulle beroep hulle op hul grondwetlike reg om hul besigheid te beskerm en sake te doen.
VL vra privaat laboratoriums en veeartse moet by die proses betrek word sodat die 14 miljoen beeste in die land so spoedig moontlik ingeënt kan word. “Wanneer daardie proses en die tweede inenting na ses maande afgehandel is, is die versoek ook dat daar om ’n tafel gesit word en oor die toekoms besin word.

Vrystaat Landbou se eerste prioriteit is die inenting en bekamping van BEK. Foto: Farmwell.Wales
“Vrystaat Landbou het sy vise-president, Friedl von Maltitz, na Argentinië gestuur om vas te stel hoe het hulle die siekte bestry. As die huidige protokolle voortduur, sal ’n groot aantal boere uit die bedryf tree, soos die melkboere wat nou hard getref word.
“Boere kan self hul diere inent, soos hulle reeds doen met brussellose wat ’n baie gevaarliker siekte is,” sê Wilken.
Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Lesotho hou groot risiko’s in vir Vrystaatse en veral Oos-Vrystaatse boere, veral met die probleem van rondlopervee en veediefstal.
“Ons is keelvol vir die politieke teater wat tans uitspeel, ons wil net so vinnig as moontlik al die diere inent en die verspreiding beperk.”
