Agriculture
Veediefstal tref nie net boere, maar hele land – RPO─── ISABEL VAN TONDER 12:07 Fri, 06 Mar 2026
Veediefstal is nie net ’n misdaad teen boere nie – dit is ’n misdaad teen Suid-Afrika se voedselsekerheid en ekonomie, sê RPO Noordwes.
Die organisasie reageer op die inhegtenisneming van twee vermeende veediewe ná samewerking tussen boere, die gemeenskappolisiëringforum (GPF) en die polisie. Landbou is naas mynbou een van die grootste bydraers tot Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid, sê hy.
Veediefstal bly ’n ernstige probleem in die omgewing van Bakerville, noord van Lichtenburg, waar boere reeds jare lank deur georganiseerde veediefstal geteister word en groot finansiële verliese ly.

Veediefstal is 'n misdaad teen voedselsekerheid. Foto: Pexel
Inligting is op Maandag, 23 Februarie omstreeks 11:00, ontvang dat ’n bees met ’n tou by Bakerville aan ’n boom vasgemaak is. Die toneel is ondersoek, en foto’s van die oorplaatjie en brandmerk is geneem om die eienaar op te spoor.
Die eienaar het toe toestemming gegee om die dier as lokaas te gebruik om die verdagtes aan te keer. Later die aand het vier mense opgedaag en die bees geslag. Die karkas is ongeveer 700 m na ’n pad gedra.
Vroeg die volgende oggend het ’n bakkie die karkas kom oplaai, sê Noordwes se provinsiale veediefstalvoorkomingsforum en RPO Noordwes. Die bestuur is in samewerking met die GPF net voor Lichtenburg voorgekeer, die Lichtenburgse polisie is in kennis gestel en die saak is aan hulle oorhandig.

Behoorlike brandmerke op beeste is noodsaaklik in die geval van veediefstal Foto: Pexel
Die saak het op 5 Maart in die Lichtenburgse landdroshof voorgekom. Amper 40 plaaslike boere was in die hof om hul teenkanting teen borgtog te toon. ’n Petisie met 253 handtekeninge van boere is aan die hof oorhandig waarin versoek is dat die beskuldigdes nie borgtog kry. Die RPO Noordwes het dit ook ondersteun.
Adv. Mzwandile Mrabe van die NVG wat die staat verteenwoordig het, het beklemtoon veediefstal is in Suid-Afrika as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer weens die enorme ekonomiese verliese wat dit veroorsaak. Borgtog vir die twee beskuldiges is geweier op grond van die hoë voorkoms van die misdaad, asook moontlike intimidasie en inmenging by getuies.
Die saak is uitgestel tot 9 April. Volgens beskikbare statistiek het veediefstal tussen April 2024 en Maart vanjaar na raming R880m se direkte verliese in die landboubedryf veroorsaak.
