On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Saai sê die staat is afwesig in stryd

───   ISABEL VAN TONDER 09:11 Sat, 07 Mar 2026

Bek-en-klouseer: Saai sê die staat is afwesig in stryd | News Article
Dr. Theo de Jager van Saai beskuldig die landboudepartement dat hy afwesig is in die stryd teen bek-en-klouseer. Foto: Saai

Die staat se afwesigheid is die grootste struikelblok in die geveg teen bek-en-klouseer, meen Saai.

Die wêreld en die subkontinent se mees gerekende kundiges oor bek-en-klouseer was onder een dak saam om idees, kundigheid en wetenskaplike kennis uit te ruil, maar die departement van landbou was nie daar nie, sê die organisasie Saai.

Die staat het geskitter in sy afwesigheid op ‘n internasionale konferensie oor bek-en-klouseer in Kaapstad, waar Suid-Afrika se beste veeartse, invloedrykste amptenare, boere en enstofvervaardigers, besluitnemers van die VN se voedsel-en landbou-organisasie, die Wêrelddieregesondheidsorganisasie en die Pirbright-verwysingslaboratorium insette gelewer het.

“Elke suksesvolle en onsuksesvolle buurstaat het ook sy ervaring van die siekte gedeel, en raad en hulp gevra en gekry, behalwe Suid-Afrika,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Boere is raad-op oor wat beskou word as die afwesigheid van die staat in die stryd teen bek-en-klouseer. Foto: Landbou Wes-Kaap

“Ons kan die spanning en frustrasie aanvoel,“ het ‘n hooggeplaaste VN-amptenaar gesê toe hy oor staatsbeheer oor bek-en-klouseer gevra is. “Ons weet nie hoe om te help as die regering self nie opdaag nie.”

Volgens Saai het dr. Danie Odendaal, wat onseremonieel uit die ministeriële taakspan geskop is, dikwels gekla oor senior beamptes wat nie vergaderings bywoon nie. Hul afwesigheid veroorsaak kommunikasieleemtes, ‘n onvermoë om enige aanbevelings te implementeer, en konflik tussen ervare en kundige rolspelers in die private sektor en amptenare van landbou.

De Jager sê dieselfde versugting klink week ná week op in die minister se sektorkomitee, dat daar nooit ‘n geleentheid is om met die minister en sy senior amptenare oor beleidsaspekte te praat nie.

Volgens Saai moes die departement onmiddellik ná die bevestiging van die uitbreking in November 2024 in die noorde van KZN ‘n siektebestuursgebied verklaar en met inentings begin het. Vir vyf maande was die owerheid egter afwesig, en die departement het eers in Maart 2025 daarby uitgekom nadat die siekte reeds versprei het.

“As die verantwoordelike senior amptenare nie afwesig was nie, sou die plaaslike virusmonsters nege maande vroeëer na die Pirbright-verwysingslaboratorium gestuur gewees het. In die ergste uitbreking van ‘n staatsbeheerde siekte is die staat, wat in die beheerstoel behoort te sit, afwesig.” 

Kundigheid en wetenskaplike kennis oor bek-en-klouseer is op 'n onlangse internasionale konferensie in Kaapstad uitgeruil, sonder dat die departement van landbou teenwoordig was, sê Saai. Foto: Pexel

Vroeër jare is die siekte beheer deur padblokkades rondom geraake gebiede op te rig en die beweging van vee te beperk. Die weermag, polisie, verkeersdepartemente, kommando’s en boereverenigings was almal betrokke.

“Die afwesigheid van die staat laat boere raadop. Ons boere beleef die grootste dringendheid, omdat ons die meeste het om te verloor,” sê De Jager.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.