On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

SA rooivleisbedryf trek swaar weens BKS

───   ELSABÉ RICHARD 11:26 Wed, 11 Mar 2026

SA rooivleisbedryf trek swaar weens BKS | News Article
Foto: Facebook/National Department of Agriculture

’n Kenner sê dit gaan nie goed met die rooivleisbedryf nie weens bek-en-klouseer (BKS).

Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê dié virussiekte het ’n ekonomiese sowel as ’n emosionele uitwerking op produsente. Laasgenoemde is “waar produsente al hul eie lewe geneem het omdat hulle net nie verder kon aangaan nie. Hulle het hul diere verloor en hulle sien nie kans daarvoor nie.”

Maar die ekonomiese gevolg is ewe verwoestend. “Ons het uit ’n paar jaar van baie slegte pryse uitgekom. Verlede jaar het ons pryse goed opgetel, maar BKS het begin maak dat ons nie kan verkoop soos ons wil nie. Saam met die onsekerheid sien ons ook weer dat die pryse bietjie afneem wat die gemoed van die produsent verder onrustig stem.”

Daar is wel ’n silwerrandjie, sê Maré. Reën versprei effens wyer na die weste van die land, wat produsente bietjie moed gee. Intussen versprei die regering BKS-entstowwe. “Ons het maande lank sonder entstowwe gesit en dit kalmeer ook die gemoedere ’n bietjie. 

Onsekerheid oor hoe boere entstowwe sal bekom

Suid-Afrika het reeds 2,5 miljoen entstowwe ingevoer van onderskeidelik Argentinië en Turkye. Die nasionale departement van landbou het bevestig nóg 700 000 dosisse word binnekort van Botswana se entstof-instituut verwag.

Maré sê egter onsekerheid heers onder produsente oor hoe hulle entstowwe op hul plaas sal kry. Hy verduidelik die staat sal die entstowwe uitdeel volgens die verspreiding van die virus.

Die provinsiale landboudepartemente besluit daarna hoe hulle gaan ent. “Die oorhoofse idee is om van buite af binne toe in te ent waar daar positiewe uitbrake is om die verdere verspreiding te keer. En dan ook jou hoërisiko-plase, jou melkplase wat baie geraak word ensovoorts, om die impak van die entstof so hoog as moontlik te maak.”

Nóg ’n vraag, sê Maré, waarmee boere worstel is hoe hulle op die entstoflys kom. “Indien jy die siekte aangemeld het, is jy deel van hierdie [sogenaamde] heat map en behoort hulle dan by jou uit te kom soos wat die entstowwe inkom.  As jy nie aangemeld het nie, is daar egter ’n probleem want dan weet die regering nie dat jy óf jou area positief is nie.”

Ingeënte diere so gemerk

Gerugte wat die ronde doen in rooivleiskringe is dat ingeënte diere elektroniese plaatjies in hul ore moet hê, wat kommer laat ontstaan dat produsente geld hiervoor sal moet spandeer.

“Ek dink wat belangrik is soos dit op hierdie stadium staan, is nie elektroniese plaatjies wat nodig is nie – die diere moet individueel genommer wees met ’n unieke nommer op ’n plaatjie wat (peuterbestand) is. Jy moet hom nie kan afhaal en weer op ’n ander dier sit nie,” sê Maré.

Hy deel dié plaatjies word gewoonlik voorsien deur verskeie geakkrediteerde verskaffers wat die unieke nommer op die plaatjie druk.

Inentings goed op dreef

Inenting teen BKS vind reeds in verskeie gebiede plaas, waaronder die Vrystaat, Noordwes en Gauteng. John Steenhuisen, minister van landbou, sê die entstowwe sal soos volge verdeel word:

  • KwaZulu-Natal: 560 000
  • Gauteng: 213 000
  • Oos-Kaap: 195 000
  • Wes-Kaap: 100 000
  • Mpumalanga: 95 000
  • Noordwes: 50 000
  • Noord-Kaap: 35 000
  • Limpopo: 25 000

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Elsabé Richard-May

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.