Agriculture
Biosekerheid hou diere gesond – RMIS─── ISABEL VAN TONDER 21:20 Wed, 11 Mar 2026
Voldoende biosekerheid verhoed dat siektes op ’n plaas uitbreek en tussen diere versprei. So hou dit diere gesond en die boerdery winsgewend.
Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het onlangs wenke saamgevat vir boere om biosekerheid op hul plase te verbeter. Volgens die organisasie begin biosekerheid deur te beperk wie op ’n mens plaas se kom.
Slegs noodsaaklike besoekers mag die plaas besoek; minder mense is ook minder risiko. Dui met borde aan waar besoekers mag gaan en waar nie, en hou hekke toe en gesluit. Spuit voertuigwiele of gebruik ’n ontsmettingsbad by die hek.
Besoekers moes nie in die voorafgaande twee dae kontak gehad het met ander hoefdiere nie en hulle moet skoon klere en skoene aantrek, veral veeartse en konsultante wat van plaas tot plaas beweeg. Almal wat die plaas besoek, moet aanmeld en ’n behoorlike besoekersregister moet bygehou word.

Behoorlike rekordhouding moet van vee gehou word. Photo: Dairy NZ
Rekord moet ook gehou word van alle aflewerings van byvoorbeeld diere en voer. Werknemers wat nie op die plaas woon nie, moet ’n “droë stort” neem: Trek skoon werkklere en -skoene aan wat deur die plaas voorsien word.
“Buiteklere” en “plaasklere” mag nie meng nie; dit bring siektes in. Personeellede moet minstens een keer per week ’n verklaring teken dat hulle nie in kontak was met ander gespletehoefdiere nie. Was werkklere gereeld, was en ontsmet hande, ken die tekens van bek-en-klouseer en meld enige verdagte simptome aan.
Elke dier moet identifiseerbaar wees met ’n oorplaatjie, voeg RMIS by. Alle diere moet elke dag ondersoek word en siek diere moet afgesonder word. Begin altyd werk met jong, gesonde diere, dan met ouer diere en werk laaste met siek diere.

Alle behandelings en medikasie moet aangeteken word. Foto: Pexel
Alle behandelings en medikasie moet neergeskryf word. As die dier vrek, moet dit volgens die vereistes van ’n omgewingspermit begrawe word (6vt. diep), ver weg van ander diere. Gebluste kalk kan ook gebruik word. As twee diere kort ná mekaar vrek, maak kontak met jou veearts.
Waterbakke gereeld skoongemaak word, diere moenie langs die grensdraad gevoer word nie en alle gereedskap moet gereeld skoongemaak en ontsmet word.
Selfs gesonde diere kan siektes dra, en nuwe diere kan bydra tot nuwe siektes. Kwarantynkampe moet getoets word vir TB en brusellose. Hierdie kampe moet volledig omhein wees en minstens 20 m weg wees van die hoofkudde.
Volgens RMIS is dit belangrik dat geen diere die plaas verlaat gedurende die 28-dag-kwarantyn nie.
