Agriculture
Vrystaat reeds begin met inentings teen bek-en-klouseer─── ISABEL VAN TONDER 08:45 Sat, 14 Mar 2026
Daar is tans 396 bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat.
Daar is tien nuwe gevalle geïdentifiseer in die omgewings van Boshof/Bultfontein (een), Reitz/Lindley (een), Bethlehem (drie),Vrede/Memel (een), Marquard/Senekal (drie) en Smithfield/Rouxville (een). Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het die inenting van beeste in die gebiede geprioritiseer en bykomende entstowwe is bekom.
Beweging van beeste op alle plase binne ’n radius van 10 km van die besmette gebiede word beperk.
Gevalle per munisipaliteit
- Kroonstad: 18
- Viljoenskroon/Vredefort: 63
- Heilbron: agt
- Edenville: elf
- Parys/Vredefort: 50
- Deneysville/Sasolburg: 46
- Villiers/Cornelia/Frankfort: 30
- Bethlehem: 14
- Tweeling: sewe
- Warden: 12
- Vrede/Memel: 19
- Qwa Qwa/Harrismith: 17
- Odendaalsrus/Welkom/Ventersburg: agt
- Bothaville: sewe
- Marquard/Senekal: 20
- Clocolan: 23
- Ladybrand: twee
- Smithfield/Rouxville: drie
- Edenburg/Reddersburg: ses
- Bloemfontein: een
- Boshof/Bultfontein: nege
- Thaba Nchu: een
Die departement het op 25 Februarie 200 000 dosisse Biogeneses-entstof ontvang en op 12 Maart 195 000 dosisse Dollvet-entstof. Die entstof word na vyf distrikte versprei en 86 611 beeste is reeds ingeënt met die Biogeneses entstof. Alle entstof is gratis wat deur die staat toegedien word.

Alle inentings wat deur die staat toegedien word, is gratis. Foto: Pexel
In ooreenstemming met die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk.
Streng biosekuriteitsmaatreëls moet gevolg word en enige nuwe vee moet vir 28 dae in isolasie bly. Hou akkuraat rekord van alle vee en meld enige verdagte gevalle onmiddellik by die staatsveearts aan.
Entstowwe
Aansoeke word ingewag en heelwat aansoeke is ontvang. Landbouers word daaraan herinner alle aansoeke sal moontlik nie slaag met die eerste ronde van inentings en strategie nie. Aansoeke word egter aangemoedig in ’n poging om toekomstige hoeveelhede van die entstowwe te bepaal.
Gevalle van bek-en-klouseer wat nie gerapporteer word nie, is ‘n groot bekommernis vir die departement. Indien gevalle nie aangemeld word nie veroorsaak dit probleme met die beplanning en uitvoering van entstof vir die besmette omgewings.
Die departement herinner boere ook die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad. Die departement vra vir volle samewerking van die veebedryf om die siekte en verspreiding te beperk.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

