Agriculture
Insetkoste, markonsekerheid plaas produsente van wintergraan onder druk─── ELSABÉ RICHARD 10:59 Tue, 17 Mar 2026
Wintergraangewasse speel ’n belangrike rol in Suid-Afrika se landbousektor, maar produsente staan vanjaar voor verskeie uitdagings wat hul aanplantingsbesluite kan beïnvloed.
Heleen Viljoen, GraanSA-landbouekonoom, vertel die land se belangrikste wintergraangewasse sluit koring, gars, kanola, lupiene en hawer in. Wintergrane word gekenmerk deur hul behoefte aan koue toestande en word hoofsaaklik gedurende die wintermaande aangeplant.
Hoewel hierdie gewasse landwyd verbou word, bly die Wes-Kaap die belangrikste produksiegebied, aangesien dit ook Suid-Afrika se vernaamste winterreënvalstreek is. Ander streke dra wel ook by, sê Viljoen.
Koring word byvoorbeeld in besproeiingsgebiede in dele van Limpopo, die Noord-Kaap en rondom Brits in Noordwes verbou. In hierdie gebiede word wintergrane onder besproeiing sowel as in droëlandstelsels geplant.
Weerstoestande en grondvog
Dis nog te vroeg om besliste weervoorspellings vir komende aanplantingseisoen te maak, veral in die noorde van die land. Goeie herfsreën kan egter voldoende grondvog vir aanplantings help verseker. “As ons dan skuif na die Wes-Kaap toe, het die Suid-Kaap goeie reën gekry tot dusver. Die Suid-Kaap word gedefinieer van Caledon af oos. En dan het die Swartland nog nie (genoegsame) reën gekry om (produsente) te voorsien vir die plantseisoen wat voorlê nie”.
Insetkoste
Benewens weerstoestande speel insetkoste ’n groot rol in produsente se besluite. Viljoen sê kunsmis alleen maak amper ’n derde van graanprodusente se insetkoste uit.
Met dié dat internasionale oliepryse skerp gestyg het en die swakker rand teenopor die dollar weens die oorlog in die Midde-Ooste, heers onsekerheid oor insetkoste wat diesel insluit, sê Viljoen.
Insetmaatskappye het die laaste tyd prysveranderings teruggehou in afwagting van internasionale markontwikkelings. “In ons plaaslike mark voer ons amper 100% van ons chemiese insette in en amper 80% van ons kunsmis.
“So, wanneer daar ’n oorlog in die wêreld uitbreek of die rand verswak, of die oliepryse skiet deur die dak, het dit ’n direkte invloed op ons plaaslike mark.” Dit laat gevaarligte flikker vir insetkoste vóór die wintergrane geplant word.
Buitelandse onrus, soos die spanning in die Midde-Ooste, het reeds ’n gemengde invloed op die graanmark: enersyds bied dit korttermynondersteuning aan kommoditeitspryse; andersyds verhoog dit die risiko van hoër insetkoste.
Suid-Afrika sal in die komende seisoen sowat 4,3 miljoen t koring beskikbaar hê. Sowat 1,8 miljoen t hiervan sal deur invoer voorsien word, terwyl plaaslike produksie na raming 1,85 miljoen t kan bereik.
Viljoen sê onbestendigheid in wêreldmarkte en insetkoste bly van die grootste risiko’s wat wintergraanprodusente hierdie seisoen fyn dop moet hou.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Elsabé Richard-May


