Agriculture
Longontsteking onder vee kan boere verder knou─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 23 Mar 2026
Longontsteking, ook bekend as pneumonie, bly ‘n ernstige en wydverspreide probleem in die Suid-Afrikaanse veesektor.
Dit raak nie net dieregesondheid nie, maar ook groei, voeromset en uiteindelik wins. Wanneer marges reeds onder druk is, kan swak bestuur van respiratoriese siektes ’n groot geldelike uitwerking hê.
Die siekte raak veral beeste, skape en bokke en kan groot ekonomiese verliese veroorsaak indien dit nie betyds bestuur word nie, sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein se veterinêre kliniek. Dit tref veral die jonger diere. “Daar is drie bydraende faktore, stof, stres en temperatuur.”
Gevalle neem toe in die lente en herfs – veral wanneer nagte koel is, maar die dae warm en die temperature met tot 20 °C verskil. “Dink jou in as jy buite in die veld is, en in die dag is dit 30 °C of warmer, maar binne ’n paar uur val die kwik tot 10 °C, net om weer die volgende dag warm te word.

Wees op die uitkyk vir vroeë waarskuwingstekens van longontsteking. Foto: Pexel
“Dit veroorsaak geweldig stres vir die diere. Wanneer kalwers of lammers gespeen word, dra dit ook by tot ’n stresvolle omgewing, sowel as stowwerige krale,” sê Bester-Cloete.
Wees op die uitkyk vir vroeë waarskuwingstekens, maar dit alleen is dit nie diagnosties nie. Diere wat hoes, ’n uitloopsel uit die neus het, wanneer eetlus afneem, diere wat agter loop as hulle aangejaag word en dikwels ook vrektes is in baie gevalle vroeë aanduidings.
Longontsteking word dikwels gediagnoseer wanneer vee ’n hoë koors het, dikwels tussen 39 en 40 °C. Longgeluide kan soms met ’n stetoskoop waargeneem word.
Behandeling moet so gou moontlik begin, voeg Bester-Cloete by. Maar dit kan nie slegs een keer gebeur nie; dit moet minstens vyf tot sewe dae aanhou, selfs al lyk die dier beter.
Gebruik ’n antibiotika wat oksitetrasiklien, florfenikol of ’n sulfa bevat. Dit is ook belangrik om ’n anti-inflammatoriese middel saam daarmee toe te dien. “In nadoodse ondersoeke sien ons dikwels dat daar as gevolg van inflammasie aanhegtings tussen die longe en die borskas vorm, en selfs al word die dier gesond, sal daar permanente skade wees.” Hou krale droog en skoon en isoleer siek diere vroegtydig.
Inenting speel ’n belangrike rol, maar baie organismes kan tot die siekte bydra, sê sy. Geen entstof sal alles verhoed nie. By beeste is dit belangrik om ’n entstof te gebruik wat die virus bevat.

Inentings moet voltooi wees voordat die winterseisoen aanbreek. Foto: Pexel
Inenting moet voltooi word minstens twee weke voordat gespeen word, sodat diere beskerm is wanneer die hoërisiko-tydperk aanbreek.
Wanneer diere toegemaak word, maak seker daar is goeie ventilering, veral waar skape in skure gejaag word voordat geskeer word. Voeding is ook baie belangrik om ’n sterk immuunstelsel te bou.
Die impak van longontsteking strek verder as net gesondheidskwessies. Dit lei tot stadiger groei, laer produksie en verhoogde behandelingskoste – faktore wat direk op produsente se winsgewendheid inwerk.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

