On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

SA graanpryse bly moontlik onder druk weens ooraanbod

───   ELSABÉ RICHARD 10:20 Mon, 23 Mar 2026

SA graanpryse bly moontlik onder druk weens ooraanbod | News Article
Produksie van somergewasse lyk belowend Foto: Tymur Khakimov/Pexels

Die produksie van somergraan en oliesade, plaaslik en in die buiteland, skep ’n nuwe uitdaging: ooraanbod.

Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom, sê groot oeste in die Swartsee-streek, die Europese Unie, Amerika en China hou wêreldgraanpryse onder druk, wat Suid-Afrika se uitvoermomentum vertraag. Minder uitvoer en beduidende oordragvoorrade sal plaaslike graanpryse waarskynlik gedemp hou.

“Hoewel dit druk op graanboere se winsmarges kan plaas, bring dit verligting vir die lewendehawe-, pluimvee- en voerbedryf, waar mielie- en sojaboonpryse skerp teenoor verlede jaar gedaal het. 

“Vir verbruikers kan dit ook help om voedselprysinflasie in die komende maande te beperk.”

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se jongste oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergewasse vir die 2026 produksieseisoen toon die 2025/26-somergraan- en oliesaadseisoen kan nóg beter wees.

Die algehele produksie word op 19,8 miljoen t geraam. Dit is effens laer as die rekordoes van 2024/25, maar steeds bo die gemiddelde. Gunstige reënval in vername produksiegebiede het daartoe gelei dat gewasse soos mielies, sojabone, sonneblomsaad, sorghum en grondbone oor die algemeen in goeie toestand is, sê Sihlobo.

Genoeg reën het geval in produksiegebiede. Foto: Daniel Dan/Pexels

Hoewel oorstromings in die noorde en droë toestande in dele van die Oos-Kaap vroeër in die seisoen kommer gewek het, was die uitwerking daarvan op die kerngraanproduserende gebiede beperk. 

Suid-Afrika sal na verwagting sowat 16,1 miljoen t mielies produseer, gemaklik bo die langtermyngemiddeld.

Ander somergewasse 

Sonneblomsaad: Die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 569 600 ha, wat 2,50% of 13 900 ha meer is as die vorige seisoen. Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 754 475 t, 7,78% of 54 475 t meer. Die verwagte opbrengs is 1,32 t/ha.

Sojabone: Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 1 212 500 ha, ’n toename van 5,34% of 61 500 ha vergeleke met die vorige seisoen. Die produksieskatting is 2 661 425 t, 4,95% of 138 5775 t minder as die 2,8 miljoen t van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 2,19 t/ha.

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 44 450 ha, 7,64% of 3 675 ha minder. Die verwagte grondbone-oes is 65 238 t, 2,98% of 1 888 t meer. Die verwagte opbrengs is 1,47 t/ha. Die oppervlakteskatting vir sorghum het effens toegeneem met 0,85% of 350 ha, tot 41 500 ha. Die produksieskatting van sorghum is 131 888 t – 12,08% of 18 113 t minder. Die verwagte opbrengs is 3,18 t/ha.

Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 40 400 ha, 11,44% of 5 220 ha minder. Die produksieskatting is 78 594 t, wat 13,21% of 11 962 t minder is. Die verwagte opbrengs is 1,95 t/ha. Die tweede produksieskatting vir somergewasse vir 2026 word na verwagting Donderdag (26/3) uitgereik.

Witmielies

Volgens die NOK beloop die oppervlakte onder witmielies 1 644 700 ha, ’n toename van 2,81% (of 45 000 ha) vergeleke met die 1 599 700 ha van die vorige seisoen. Die produksieskatting vir witmielies staan op 8 509 550 t, oftewel 0,70% (59 550 t) meer as die 8 450 000 t van die vorige seisoen. 

Die gemiddelde opbrengs word op 5,17 t/ha geraam.

Die oppervlakte onder geelmielies word op 1 071 500 ha geraam, wat 7,47% (of 74 500 ha) meer is as die 997 000 ha wat die vorige seisoen aangeplant is. Die produksieskatting vir geelmielies beloop 7 616 800 t, 7,11% (583 200 ton) minder as die 8,2 miljoen t van die vorige seisoen. 

Die beraamde gemiddelde opbrengs is 7,11 t/ha.

Die NOK sê die aanplantingsyfers is hoofsaaklik verkry vanaf die Produsente- Onafhanklike Oesskattingstelsel, soos gerapporteer deur die Nasionale Oesskattingskonsortium vir die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng.

OFM Agri/Elsabé Richard-May  dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.