Agriculture
Bloemskou ’26: strandpartytjie en opwinding beloof─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 25 Mar 2026
Bloemskou word vanjaar van 23 April tot 2 Mei aangebied op die skouterrein in Bloemfontein.
Bloemskou vier ook met trots sy 143ste bestaansjaar met ’n vars en opwindende tema: Beach Party in Bloem! Vanjaar beloof ’n golf van nuwe ervarings, hernude tradisies en opwindende vermaak vir die hele gesin.
Besoekers word genooi om Bloemskou op ’n nuwe manier te sien, voel en beleef met die onderliggende tema Parkeer Anders, Stap Anders, Ervaar Anders.

Ongeveer 900 perde sal tentoongestel word op Bloemskou. Foto: Pexel
Die skou beklemtoon ware, tasbare ervarings wat geen toestel of digitale media kan vervang nie. Ten spyte van ’n uitdagende begin van die jaar weens bek-en-klouseer, wat veroorsaak het dat die bees- en kleinvee-kampioenskappe nie aangebied kan word nie, het Bloemskou met innovasie aangepas.
Vanjaar se vol landbouprogram sluit in:
- vyf kampioenskappe, insluitend die wêreldbuitelug-saalperdkampioenskap;
- sowat 900 perde met internasionale belangstelling;
- miniatuurperdeskoue;
- tentpensteek-kompetisies;
- springrygeleenthede;
- die tweede interprovinsiale Hoefsmid-kampioenskap;
- Boerboelhonderas se provinsiale kampioenskap.
Bloemskou bly ’n geliefde plek waar gesinne, boere en telers bymekaar kom. Besoekers kan ’n verskeidenheid unieke landbou- en buitelugaktiwiteite verwag.
Dit sluit ’n Skaapfeesdag met tradisionele geregte soos skaapkop, -afval en -bredies, kettingsaag- en snoeidemonstrasies, blaasmasjienuitdagings, hondevertonings, ovaalbaanresies en opwindende nuwe uitstallings soos die geskenkwinkel Rooms on View met die nuutste dekorneigings en uitstallings van voertuie en landbou-verwante produkte.

Meer as 2000 kuns- en handwerkinskrywings sal te sien wees op Bloemskou. Foto: Pexel
Bloemskou bied vermaak vir alle ouderdomme met onder meer meer as 2 000 kuns en handwerkinskrywings, 300 uitstallings, 60 kosstalletjies, 20 musiektoptredes, sirkusoptredes, voertuig-spinning, wêreldrekordpogings, liggaamsbougeleenthede en dans- en modeskoue.
Vir die volledige program, toegangsgeld en daaglikse roosters, besoek die skou se webtuiste www.bloemskou.co.za
