Agriculture
Hoenderpokke ’n groeiende bedreiging vir pluimveeboere─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 26 Mar 2026
Hoenderpokke is ’n virussiekte wat wêreldwyd onder pluimvee voorkom.
Dié siekte (“Avian pox” in Engels) word veroorsaak deur ’n virus uit die familie Poxviridae. Hoenders en kalkoene is die vatbaarste, hoewel pluimvee soos eende, ganse, fisante en kwartels ook aangetas kan word.
“Die siekte versprei deur direkte kontak van ’n geaffekteerde voël op ’n skraap of stukkende plek,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein se veeartsenykundige laboratorium.
“Muskiete en ander bytende insekte speel ’n belangrike rol in die oordrag, veral in Suid-Afrika. Muskiete teiken veral hoenders in oop hoenderhokke en sal verskeie hoenders in die nag steek/byt, wat dan die virus oordra.”

Muskietbeheer moet doeltreffend toegepas word naby hoenders en hoenderhokke. Foto: Pexel
Die siekte kom wyd verspreid in Suid-Afrika voor, meestal in agterplaasboerderye, met ander woorde, hoenders wat vrylopend is en waar insek- en plaagbeheer nie streng toegepas word nie. Op kommersiële hoenderplase is die beheer van siektes en plae streng en daar is nie gras en stilstaande water om die hoenderhokke nie.
Jonger hoenders van ongeveer vier tot twaalf weke word die ergste aangetas. Gewoonlik het volwasse hoenders al weerstand en sal nie sommer siek word nie, sê Bester-Cloete. Uitbrekings kom soms voor in hokke met lêhenne.
Die siekte kom in twee vorme voor: eerstens die algemene vel- of droë vorm. Dit vorm vratagtige letsels aan die dele van die vel wat nie vere het nie: meestal aan die gesig, kammetjie en soms aan die pote. Die vratte kan baie groot raak, soms so erg dat die hoenders se oë heeltemal toe is.
Dan is dit baie belangrik om seker te maak dat die hoenders wel by kos en water kan kom of gevoer word. Wanneer die vratte afval of stukkend raak, kan sekondêre bakteriële infeksie ook ’n probleem wees.
Die tweede vorm van die siekte is die difteriese of nat vorm, wat gewoonlik die bek, lugpyp en slukderm aantas. Dit veroorsaak plat geel membrane aan die slymvliese, wat dit vir die hoenders moeilik maak om te eet of selfs asem te haal.

Jonger hoenders van ongeveer 4 tot 12 weke word die meeste aangetas deur hoenderpokke. Foto: Pexel
“Die belangrikste stap wat enige boer kan doen om pluimvee te beskerm is om te ent,” sê Bester-Cloete. “Daar is ’n entstof wat met ’n naald in die vlerk toegedien kan word.
“Die vlerk word oopgetrek, die naald in die entstof gedruk en dan deur die dun velgedeelte van die vlerk gesteek. Die naald gaan dus regdeur die vel, een kant in en anderkant uit, nie in die spier nie.
“Muskietbeheer moet toegepas word en siek hoenders moet nie met gesonde hoenders gemeng word nie, dis altyd die beste idee om voorkomend te ent.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
