Agriculture
Toenemende bek-en-klouseer bedreig Vrystaat se veesektor─── ISABEL VAN TONDER 21:23 Fri, 27 Mar 2026
In die Vrystaat is tans 423 bevestigde gevalle van bek-en-klouseer aangemeld.
Daar is vier nuwe gevalle geïdentifiseer in die omgewing van Vrede/Memel (twee), Goudveld-distrik (een) en Ladybrand/Hobhouse (een). Die departement van landbou en landelike ontwikkeling prioritiseer dié inenting van die beeste en bykomende entstowwe is bekom.
Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n radius van 10 km van die besmette gebiede om verdere verspreiding te voorkom.
Gevalle per munisipaliteit
- Kroonstad: 20
- Viljoenskroon/Vredefort: 67
- Heilbron: nege
- Edenville: 14
- Parys/Vredefort: 50
- Deneysville/Sasolburg: 46
- Villiers/Cornelia/Frankfort: 35
- Bethlehem: 14
- Tweeling: sewe
- Warden: 12
- Vrede/Memel: 22
- Qwa Qwa/Harrismith: 19
- Odendaalsrus/Welkom/Ventersburg/Hennenman/Virginia: 15
- Bothaville: sewe
- Marquard/Senekal: 20
- Clocolan: 23
- Ladybrand/Hobhouse: drie
- Smithfield/Rouxville: drie
- Edenburg/Reddersburg: ses
- Bloemfontein: een
- Boshof: vyf
- Bultfontein: vier
- Thaba Nchu: een
Die departement het op 25 Februarie 200 000 dosisse Biogéneses-entstof ontvang en op 12 Maart 195 000 dosisse Dollvet-entstof. Die entstof word versprei na vyf distrikte vir inenting. Altesaam 150 346 beeste is reeds ingeënt met die entstowwe. Alle entstof wat deur die staat toegedien word, is gratis..

Die departement is bekommerd oor BEK-gevalle wat nie aangemeld word nie. Foto: Pexels
In ooreenstemming met die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk.
Volg streng biosekuriteitsmaatreëls en enige nuwe vee moet vir 28 dae in afsondering gehou word. Hou rekord van jou vee en meld enige verdagte gevalle onmiddellik aan by die staatsveearts.
Aansoeke word ingewag en heelwat aansoeke is ontvang. Landbouers word daaraan herinner dat alle aansoeke moontlik nie sal slaag met die eerste ronde van inentings en strategie nie. Aansoeke word egter aangemoedig om toekomstige hoeveelhede van die entstowwe te bepaal.
Gevalle van bek-en-klouseer wat nie gerapporteer word nie, is ’n groot bekommernis vir die departement. As gevalle nie aangemeld word nie, veroorsaak dit probleme met die beplanning en voorsiening van entstof aan die besmette gebied en kan dit daartoe lei dat te min entstof daaraan toegewys word.

Streng biosekerheid moet gevolg word in 'n poging om BEK te beheer Foto: Pexels
Boere moet ook onthou dit is ’n misdaad om diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie te vervoer. Die departement vra boere en belanghebbendes om saam te werk in die bekamping en verspreiding van die siekte.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

